Eerste Covid-19-geval in Vatikaan aangemeld

Toeriste loop Vrydag in St. Pietersplein in die Vatikaanstad. (Foto: Andrew Medichini, AP)

Die Vatikaan het nou ook sy eerste bevestigde geval van die gevreesde nuwe tipe koronavirus bekend as Covid-19 aangemeld. Dít volg enkele dae nadat die Vatikaan gesê het pous Franciskus het net ’n slegte verkoue en nié Covid-19 nie.

Matteo Bruni, woordvoerder van die Vatikaan, sê ’n pasiënt in een van die stad se klinieke is Donderdag met die virus gediagnoseer. Plaaslike klinieke het nou gesluit sodat dié fasiliteite ontsmet kan word.

Die pasiënt het in aanraking met ʼn Franse priester gekom, wat sedertdien in Parys opgeneem en as voorsorgmaatreël onder kwarantyn geplaas is.

Meeste van die Vatikaanstad se werknemers maak gebruik van die Vatikaan se gesondheidsdienste, maar woon in Italië of aan die ander kant van die Vatikaan se grens. Dit is nie in dié stadium duidelik of die pasiënt slegs ’n werknemer van die Vatikaan is of een van die min gelowiges of wagte is wat binne die mure van die Vatikaan woon nie. Die stad het sowat 1 000 inwoners.

Bruni het wel gesê die Vatikaan werk saam met die Italiaanse owerhede om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan. Dit sal moontlik beteken dat die pous se weeklikse oudiënsies tydelik gestaak moet word.

Toeriste dra Vrydag maskers in St.Pietersplein in die Vatikaanstad. (Foto: Andrew Medichini, AP)

Maroela Media het vroeër berig die pous het verlede week twee amptelike afsprake misgeloop en toe boonop al hoesende tydens die tradisionele Sondagseën aangekondig dat hy nie meer gaan deelneem aan ʼn beplande week lange geestelike afsondering buite Rome nie. Hierna het talle bewerings oor die 83-jarige pous se gesondheid die ronde begin doen.

Die Vatikaan hou egter vol dat pous Franciskus nét ’n verkoue het en daarom ’n effense blaaskans van sy pligte neem.

Meer as 3 800 bevestigde gevalle van Covid-19 is reeds in Italië aangemeld met 148 sterftes. Die sterftes is meestal in die Veneto- en Lombardië-streek meer as 500 km van die Vatikaan aangemeld.

Nederland het nou ook sy eerste sterfte aangemeld. Die 86-jarige man is vroeër in ’n hospitaal in Amsterdam opgeneem. Kameroen en Serwië het intussen hul eerste bevestigde gevalle aangemeld. Dié pasiënte is onderskeidelik 58 en 43 jaar oud.

Indië en Suid-Korea het op hul beurt ’n toename in bevestigde gevalle aangemeld. In Indië het die aantal gevalle vandeesweek van ses na 31 gestyg.

Suid-Korea het Vrydag alleen 518 nuwe gevalle aangemeld. Altesaam 6 284 mense is nou hiér met Covid-19 gediagnoseer en 42 sterftes weens die virus is aangeteken. Die meeste slagoffers was bejaard of het onderliggende siektes gehad.

Bronne: BBC, Aljazeera, Daily Mail

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Janee ·

En hoekom sal die “heiliges” dit nie kry nie?…Almal is uitgelewer…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.