Eerste Covid-19-gevalle in Noord-Korea aangemeld

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: AP Photo/Luca Bruno)

Noord-Korea het Donderdag sy eerste Covid-19-gevalle nog ooit aangemeld en dié verskynsel as ʼn “ernstige noodgeval” bestempel.

Die gevalle kom meer as twee jaar sedert die aanvang van die wêreldwye pandemie, maar Noord-Koreaanse leier Kim Jong-oen het besluit om daadwerklik op te tree en landwye inperkings in te stel.

Die geheimsinnige land het nog nooit erken dat daar ʼn enkele Covid-19-geval in sy land teenwoordig is nie en het sedert 2020 rigiede koronavirusblokkades by sy grense opgestel.

Monsters wat egter vandeesweek van pasiënte – wat siek is met koors – in Pjongjang geneem is, het ooreengestem met die Omikron BA.2-variant, het Noord-Korea se amptelike nuuskanaal, Korean Central News Agency (KCNA), berig.

Topamptenare, onder wie Kim, het Donderdag ʼn krisisvergadering gehou om die uitbraak te bespreek en aangekondig dat hulle die “maksimum noodvoorkomingstelsel vir pandemies” sal implementeer.

Kim het al die stede in die land versoek om hul inwoners se beweging te beperk, maar KCNA het nie verder oor die aard van die beperkings uitgebrei nie.

Volgens die nuuskanaal het Kim aan die vergadering gesê dat hierdie stap noodsaaklik is om “die infeksies vinnig te genees en die bron van die virusverspreiding uit die weg te ruim”.

Dit is op hierdie stadium nog onduidelik hoeveel koronavirusgevalle daar wel in die land is.

Kenners meen dat Noord-Korea se gesondheidsinfrastruktuur sal sukkel om ʼn groot uitbreking van koronavirusgevalle te hanteer, aangesien al 25 miljoen van sy burgers glo nie ingeënt is nie.

“Vir Noord-Korea om in die openbaar te erken dat daar Covid-19-gevalle is, moet die situasie ernstig wees,” het Leif-Eric Easley, professor aan die Ewha-universiteit in Seoel, gesê.

Nee vir entstof

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Daniel Leal/AFP)

Noord-Korea het menigmaal die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), China en Rusland se aanbod van Covid-19-entstowwe van die hand gewys.

Om entstowwe deur die WGO se Covax-skema te aanvaar “vereis deursigtigheid oor hoe entstowwe versprei word,” het Go Myong-hyun, navorser by die Asan Institute for Policy Studies, gesê.

“Dit is hoekom Noord-Korea die aanbod verwerp het.”

Noord-Korea word omring deur lande wat gesukkel het – of steeds sukkel – om uitbrekings van die Omikron-variant te beheer.

Suid-Korea, wat ʼn hoë inentingsyfers het, het onlangs byna alle Covid-19-beperkings opgehef, maar China sukkel steeds om sy geen-Covid-beleid te handhaaf. Groot Chinese stede, waaronder die finansiële hoofstad Sjanghai, gaan al vir weke lank gebuk onder streng beperkings.

Cheong Seong-chang van die Sejong-instituut meen dat Noord-Korea dit moontlik sal vermy om sulke uiterste maatreëls soos China in te stel, maar dat enige vorm van beperking op beweging ʼn “ernstige voedseltekort sal veroorsaak en dieselfde chaos tot gevolg sal hê as waarmee China nou sukkel”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Marius ·

Snaaks hoe ‘n virus meer reaksie en vrees uitlok as ‘n oorlog. Totaal onnodig. As dit nie vir die media is nie sal niemand eers daarvan weet nie.

Nommer 7 ·

Marius, as dit nie vir die media was nie, sou niemand u kommentaar kon lees nie.

JohanR ·

EERSTE!!!!! Die Covid-19 het al laat in 2019 begin soe in 2.5 jaar is dit die EERSTE geval in Noord-Korea. Jy kan NIKS glo wat ek ‘n kommunis of ‘n kommuniste land kom nie!

VaalDonkie ·

Dit sal net in 2022 wees wat ek met Noord Korea oor iets saamstem.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.