Eerste Covid-19-sterfte in Afrika

Die Juventus-stadion in Italië was Sondagaand leeg terwyl ‘n sokkerwedstryd daar beslis is. In ‘n poging om die verspreiding van Covid-19 te verminder, is geen toeskouers toegelaat nie. (Foto: Marco Alpozzi/LaPresse via AP)

Die eerste sterfte weens die nuwe koronavirus wat Covid-19 veroorsaak, is op die Afrika-vasteland aangemeld.

ʼn 60-jarige Duitse burger het die afgelope naweek in Egipte gesterf, het dié land se departement van gesondheid gesê. Hy het Vrydag in Hurghada vanuit Luxor aangekom en reeds ʼn hoë koors gehad.

Die man is dieselfde aand na ʼn hospitaal in die stad waar hy positief vir Covid-19 getoets het. Hy het weens ernstige longontsteking gesukkel om asem te haal en is in die waakeenheid behandel. Die man het glo geweier om na ʼn ander hospitaal oorgeplaas te word waar hy in kwarantyn gehou kon word en sy toestand het deurlopend versleg. Hy is Sondag dood.

Egipte het teen Sondagaand 48 bevestigde voorvalle van Covid-19 gehad. Dit sluit 45 passasiers in wat op ʼn luukse passasierskip op die Nylrivier deur die suide van Egipte gereis het.

Iran het 49 nuwe sterftes aangemeld wat die dodetal in dié land op 194 te staan bring.

Die virus versprei intussen soos ʼn veldbrand in die Midde-Ooste. Tot 6 566 mense in Iran het die virus onder lede, ʼn styging van 743 binne ʼn enkele dag, het Kianush Jahanpur, Iran se woordvoerder oor gesondheid, gesê. In die hoofstad Teheran het nagenoeg 1 800 mense positief vir die virus getoets.

Hy het Irannese gevra om nie na die land se provinsies te reis nie en tuis te bly om ʼn vlaag nuwe besmettings te voorkom.

‘n Masker lê in ‘n poel water digby die Kolosseum in Rome, Italië. Die gewilde aantreklikheid is gesluit terwyl die land spook om die verspreiding va Covid-19 te stuit. (Foto: Alfredo Falcone/LaPresse via AP)

Die waarskuwing kom terwyl miljoene Irannese hulle voorberei om na die platteland te reis om die Persiese Nuwejaar te vier. Die polisie het padblokkades opgestel op bykans al die hoofroetes wat na ander provinsies lei, maar mense kan steeds na Teheran reis.

Die lugredery Iran Air het Sondag al sy vlugte na Europa opgeskort in reaksie op Europese lande se besluit om vlugte van dié redery te beperk. Iran Air is tans in onderhandelinge gewikkel om alle vlugte te hervat.

Die meeste voorvalle van die virus in lande in dié streek hou verband met reise na Iran, wat buiten China die grootste episentrum van die siekte is.

Saoedi-Arabië het gister alle toegang na en van die Qatif-provinsie opgeskort waar al dié land se Covid-19-gevalle aangemeld is. Werk by staatsinstellings en private ondernemings – buiten gesondheidsinstellings en vulstasies – is gestaak in ʼn poging om te verhoed dat die virus verder versprei.

Wêreldwyd het meer as 100 000 mense reeds Covid-19 opgedoen en meer as 3 500 gesterf.

Ouer mense en diegene met onderliggende gesondheidskwale is die kwesbaarste vir die siekte. Die moontlikheid bestaan ook dat iemand die siekte onder lede het, maar geen of min simptome wys nie.

Suid-Afrika het tot dusver drie bevestigde gevalle van die virus.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Magda ·

MMMMMMM en ONS “minister van gesondheid” se DIS NIE ERNSTIG NIE?????????????????????

Elize ·

Ja asseblief moet net nie die lug vanuit die Ooste inasem nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.