Eerste dubbele handoorplanting vir kind ’n sukses

Zion Harvey. Foto via inspiremykids.com

Dokters van Amerika het vandeesweek gesê die eerste dubbele handoorplanting vir ’n kind was ʼn sukses nadat die agtjarige ontvanger van dié twee hande nou ʼn doodnormale lewe lei.

Zion Harvey (nou 10) van Baltimore in Maryland, Amerika, het twee jaar gelede die eerste kind geword wat só ʼn uiteenlopende en gevaarlike operasie ondergaan het.

Dokters het vandeesweek aan die mediese joernaal The Lancet Child & Adolescent Health gesê dié grensverskuiwende operasie kan nou vir ander ook die moontlikheid bied om weer ʼn “normale” lewe te lei.

Harvey se hande en voete is op tweejarige ouderdom geamputeer nadat hy septisemie opgedoen het.

“18 maande ná die oorplanting het Harvey uitstekend aangepas. Hy kan nou skryf, homself alleen aantrek en alles meer doeltreffend doen as wat hy voor die oorplanting kon doen,” het dokters van die Children’s Hospital in Philadelphia gesê.

Die 10-jarige sê hy is dankbaar om deesdae normaal te kan leef en om daartoe in staat te wees om sport en ander aktiwiteite te beoefen. “Daar was ʼn deel van my wat vermis was. Noudat ek weer hande het, is my lewe volmaak,” het hy gesê.

Die operasie het sowat 11 uur geduur en vier spanne dokters was daarby betrokke.

Orgaanoorplanting, veral op kinders, is nooit ʼn definitiewe sukses nie omdat die liggaam die nuwe organe altyd kan verwerp. Volgens dokters het die medikasie wat hy voor en ná die oorplanting moes gebruik, ook talle gesondheidsrisiko’s ingehou.

Lorna Marson, uitvoerende hoof van die Britse oorplantingsvereniging, sê suksesverhale soos dié wys hoe innovasie en wetenskap die potensiaal het om die gehalte van talle mense se lewens te verbeter.

“Die mediese veld van oorplantings verander en groei konstant, en dit is wonderlik om positiewe uitkomste soos dié van Zion te hoor,” sê sy.

Meer as 100 mense wêreldwyd het al ʼn hand- of armoorplanting ondergaan sedert die eerste van dié oorplantings in 1998 uitgevoer is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.