Eerste ebola-oordrag in Amerika

Items word verwyder uit die woonstel waar die ebola-pasiënt, Thomas Eric Duncan, gebly het voordat hy in die hospitaal opgeneem is Foto: Getty

Items word verwyder uit die woonstel waar die ebola-pasiënt, Thomas Eric Duncan, gebly het voordat hy in die hospitaal opgeneem is Foto: Getty

Owerhede in Amerika het bevestig dat ʼn gesondheidswerker by ʼn hospitaal in Texas, wat ʼn ebola-pasiënt versorg het, positief getoets het vir die virus in ʼn voorlopige toets.

Die departement van gesondheid in Texas het Sondag in ʼn verklaring op sy webwerf gesê die Amerikaanse Sentrum vir Siektebeheer en Voorkoming (CDC) sal die uitslag bevestig.

Die persoon het glo Vrydagaand koors gehad en is in isolasie geplaas. Die voorlopige uitslag is laat Saterdagaand ontvang.

Dr. David Lakey, kommissaris vir die gesondheidsdepartement in Texas, het gesê beamptes “het hulself voorberei op dié moontlikheid.

Thomas Eric Duncan, die eerste persoon wat in Amerika met ebola gediagnoseer is, is Woensdag in Dallas oorlede.

Intussen het die regering in Spanje bevestig ʼn verpleegster, wat die virus opgedoen het nadat sy ʼn ebola-pasiënt versorg het, toon “tekens van verbetering”. Teresa Romero se prognose bly glo egter “ernstig” en verdere komplikasies kan nie uitgesluit word nie.

Volgens die Wêreldgesondheidorganisasie (WGO) se statistiek op 8 Oktober is minstens 4 033 mense reeds uit altesaam 8 399 gevalle in sewe lande (Guinee, Liberië, Nigerië, Senegal, Sierra Leone, Spanje en Amerika) oorlede.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.