Eerste minister se trouplanne van die baan

Jacinda Ardern. (Foto: AP Photo/Mark Baker)

Nieu-Seeland se eerste minister Jacinda Ardern moes Sondag haar eie trouplanne laat vaar toe sy Covid-19-beperkings verskerp het in die lig van ʼn uitbreking van die Omikron-variant.

“My troue sal nie voortgaan nie,” het sy bevestig ná sy nuwe beperkings aangekondig het, insluitend ʼn beperking van 100 ten volle ingeënte mense by byeenkomste.

“Ek het sopas by talle ander Nieu-Seelanders aangesluit wat dieselfde ondervinding gehad het weens die pandemie, en enigiemand anders wat hul in dieselfde bootjie bevind. Ek is so jammer.”

Nege gevalle van Omikron wat aangemeld is in ʼn gesin wat tussen stede gereis het om ʼn troue by te woon, en ʼn lugwaardin wat op een van die vliegtuie was waarin hulle gereis het, het Nieu-Seeland gedwing om sy “rooi”-beperkings vanaf Sondag om middernag in te stel.

Omikron is baie meer aansteeklik as die vorige Delta-variant, maar sal waarskynlik nie erge simptome veroorsaak nie.

Buiten die beperking op skares, is ʼn gesigbedekking nou ook verpligtend op openbare vervoer en in winkels.

Ardern en haar lewensmaat Clarke Gayford het nog nooit ʼn datum vir hul troue aangekondig nie, maar dit sou waarskynlik binne die volgende paar weke plaasgevind het. Die nuwe beperkings sal tot minstens die einde van volgende maand voortduur.

“Só is die lewe,” het Ardern gesê op die vraag oor hoe sy voel oor die regulasies wat haar trouplanne in die wiele gery het.

“Ek is niks anders as die duisende ander Nieu-Seelanders wat al baie erger deur die pandemie geraak is nie. Die ergste is dat mens nie saam met ʼn geliefde kan wees wanneer hulle baie ernstig siek is nie. Dit is erger as enige hartseer wat ek voel.”

Nieu-Seeland het 15 104 Covid-19-gevalle en 52 sterftes aangemeld sedert die pandemie uitgebreek het. Streng grensbeperkings en vinnige inperkingsreëls het vir die grootste deel van die afgelope twee jaar gegeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

KB ·

Nie my gunsteling mens nie, so verwag ʼn negatiewe reaksie van my op haar swak standpunt jeens die huwelik.
As mens in die leiersposisie van ʼn land is, behoort jy ʼn voorbeeld te wees.
Net so pateties soos Boris Johnson.

Dirk Mostert ·

Mag mens vra, van watter gender of huidige gender is haar aanstaande?

Dirk Mostert ·

‘n Beperking van 100 ten volle geente mense by byeenkomste??

Yolandie ·

Ook maar kniediep in die Chinese se geldsakk …..terwyl sy hard besig om haar land se ekonomie te kelder. Kommunis van format…….nee wat tydens die pandemie het baie lande se politisie hulle ware kleure gewys…..geld kom voor hulle liefde vir hulle land en hulle mense.

Christine ·

Sy is ‘n liberalis van formaat met al die negatiewe koniteite wat bedoel word.

Thom ·

Top mens ; top politikus ! Slegs 52 mense dood in haar land agv onverbiddelike en effektiewe bestuur van die pandemie .

VaalDonkie ·

Intussen moet mense kos smokkel om aan die lewe te bly

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.