Eerste Nederlandse dokter oor genadedood vervolg

Foto ter illustrasie: greens.au.org

In die eerste saak van sy soort sedert genadedood in 2002 in Nederland gewettig is, word ʼn dokter vervolg omdat sy glo nie behoorlike toestemming vir dié prosedure by ʼn bejaarde vrou met demensie gekry het nie.

Staatsaanklaers in Nederland het die kriminele saak Vrydag begin teen die dokter wat die bejaarde demensielyer se lewe in April 2016 deur genadedood beëindig het, berig Deutsche Welle.

In ʼn mediaverklaring voer die aanklaers aan die dokter het “nie versigtig opgetree nie” en “die perke oorskry” toe sy die pasiënt deur genadedood laat sterf het.

Die 73-jarige vrou, by wie Alzheimer se siekte vier jaar voor haar dood gediagnoseer is, het ʼn geskrewe versoek om genadedood ingedien, maar die aanklaers beweer nou die pasiënt se aansoek was “onduidelik en teenstrydig”.

In ʼn vroeëre verslag het ʼn genadedoodhersieningskomitee geskryf die vrou het in haar lewende testament gesê sy wil genadedood hê “wanneer ek ook al voel die tyd is geleë’. Maar nadat sy meermale in die versorgingsoord gevra is of sy wou sterf, het sy gesê: “Nog nie nou nie; dis nog nie so erg nie.”

Die komitee het in hul verslag beweer die dokter, so het sy glo self getuig, sou met die genadedood deurgedruk het, selfs al sou die pasiënt in haar laaste oomblikke gesê het sy wil nié sterf nie.

Die dokter se naam is nog nie bekendgemaak nie. Sy het na bewering die bejaarde se koffie met ʼn slaapmiddel gedokter en naasbestaandes gekry om die vrou vas te druk terwyl sy haar met ʼn dodelike middel ingespuit het.

Aanklaers het Vrydag gesê die dokter moes vir oulaas met die pasiënt bevestig het dat sy wel wou sterf. Dit het sy blykbaar nie gedoen nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Oompie ·

Ek is in die 60 en nie die gesondste ou in die omgewing nie. Die deel van vasdruk en inspuit klink vir my gevaarlik. Ek is te bang om te hoes in die verkeerde geselskap. Ek steun vrywillige genadedood. Maar net as ek toestem

Susan ·

Ek bly veeeer weg van daai dr. Dalk wou di vrou ni sterf en daarom haar vasgedruk. Ek hou verby nogal scary hoor

Magaretha van heerden ·

Dit is nie genadedood nie maar plain moord. Alle ou mense word beskou as oorbodig. Hier by ons noem hulle dit die Liverpool pathway vir “siek” mense. Wie is die mens om te besluit om vermoor te word of gehelp te word om hom/haar self te vermoor? Waar is die dae wat ons vertroue op God was en dat Hy weet wat die doel van ons lyding is? Euthenasia sal nooit vir my aanvaarbaar word nie , nes aborsies ook nie. Ek glo die Here sal besluit wanneer ek moet gaan.

Asmain ·

As jy iemand moet vasdruk om die middel toe te dien, is dit nie genade dood nie.
Die naasbestaandes wat die vasdruk werk gedoen het, moet dalk ook ondersoek word, daar is dalk n vroere erfporsie op die spel!

Jax ·

Dokters in die laeland vertrou ek glad nie. Die hele gesondheidsorg, as mens dit gesondheid kan noem, is treurig en pateties! n Spul draadsitters met uiters karige opleiding! Ons verpleegpersoneel is beter opgelei! Ek sal n Kaaskop dokter nie vertrou met n afgesnyde haarlok van my vrou nie!

Anoniem ·

Ek stap ook aan na my einde as mens volgens ouderdom kyk maar niemand weet wanneer dit jy laaste uur is. Genadedood is nie n moeilike besluit nie want dit mag nie eens n keuse wees nie. God is die gewer van lewe en ek glo ook dat God sall besluit wanneer jy dood gaan
Daardie persoon wat so terminaal siek is en wie se dood nou beeindig word met genadedood wie se sy/ haar lewe is reg met ons Skepper. Ek sien genadedood as selfmoord en selfmoord is sonde nou as el genadedood toepas dan ontneem ek die persoon miskien hul voorreg om hul saak met die Here reg te maak. Dit is my siening

Breytie ·

Die mediese wetenskap en veral die farmaseutiese bedryf gryp daagliks in om die dood uit te stel al weet die betrokkenes hierdie mens kan nie meer ‘n sinvolle lewe lei nie. Dis seker ook moontlik dat die aan- of afwesigheid van ‘n goeie mediese skema ‘n rol speel, wie sal weet. As die mens kan ingryp om ‘n lewe kunsmatig te verleng, waarom kan hy nie ingryp om ‘n lewe te beëindig nie? Ons leef in ‘n samelewing waar alles kunsmatig gedoen kan word – vanaf geboorte tot dood en alles tussenin. Waarom word God dan nie oral betrek nie?

John ·

Ja, MeMe sal seker ook nou daarop begin aandring… en dan wil ek so en so ‘n begrafnis he… Miskien raak familie ook moeg om besoek af te le. In Europa is daar ook sg trustees oor oumense se geld aangestel sodat hulle glo nie lawwe dinge aanvang nie veral as daar nie erfgename is nie… Nie alle dokters wil graag mense se lewens beeindig nie en druk vanaf pasiente kan dan ‘n tammeletjie word vir die arme artse. Wat preek die dominees by sulke begrafnisse…. have a heart…

Maritza ·

Dit klink vir my asof almal wou he die dr dit moes doen, en daarna toe uitvind life insurance gaan nie uitbetaal nie….. sluit familie klaers hier toe!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.