Eerste ontvanger van ʼn varkhart sterf

Die “geskiedkundige” operasie het in Januarie plaasgevind. (Foto: Amerikaanse Universiteit van Maryland se mediese skool/AFP)

Die eerste mens wat ʼn hartoorplanting van ʼn geneties gemodifiseerde vark ontvang het, is Woensdag dood, net twee maande nadat dié mediese mylpaal bereik is.

Die hospitaal wat die oorplanting in Januarie suksesvol voltooi het, het die 57-jarige man se dood bevestig.

“David Bennett het op 7 Januarie die oorplanting ontvang en is op 8 Maart dood,” het die woordvoerder van die Amerikaanse Universiteit van Maryland se mediese skool in ʼn verklaring gesê.

“Daar is geen ooglopende oorsaak vir sy dood geïdentifiseer nie, maar dokters is besig om die hele proses te hersien. Die bevindinge van dié ondersoek sal binnekort in ʼn wetenskaplike vaktydskrif gepubliseer word.”

Volgens AFP het Muhammad Mohiuddin, die hospitaal se medestigter van die kardiale xeno-oorplantingsprogram, wel in ʼn vorige videoverklaring gesê dat Bennett by tye ʼn infeksietelling gehad het wat uiters hoog was.

“Ons het gesukkel om ʼn balans tussen sy immuunonderdrukking en die beheer van sy infeksie te handhaaf,” het hy gesê.

Bennett se toestand het etlike dae gelede begin versleg.

“Hy kon in sy laaste ure met sy familie kommunikeer,” het die hospitaal se woordvoerder gesê.

Ná die operasie het die oorgeplante hart etlike weke baie goed gevaar sonder enige tekens van verwerping. Bennett kon tyd saam met sy familie deurbring, het aan fisioterapie deelgeneem en het selfs daaroor gepraat om eindelik ontslaan te word en huis toe te gaan.

“Hy het bewys dat hy ʼn dapper en waardige pasiënt was wat tot die einde geveg het,” het Bartley Griffith, die chirurg wat die operasie gedoen het, gesê.

Die operasie het hoop onder wetenskaplikes laat ontstaan dat orgaanskenkings tussen spesies eendag die chroniese tekorte aan menslike organe sal verlig. Wetenskaplikes is egter steeds hoopvol dat hierdie soort oorplantings eendag ʼn sukses sal wees.

Volgens Mohiuddin het die span “onskatbare en waardevolle insigte” uit die ervaring gekry. “Ons bly optimisties en beplan om in die toekoms hiermee voort te gaan.”

Bennett is in Oktober verlede jaar in die hospitaal opgeneem, waar hy bedlêend was en eindelik op ʼn noodlewensondersteuningsmasjien geplaas is. Hy het egter nie in aanmerking gekom vir ʼn menslike hartoorplanting nie.

Sowat 10 000 Amerikaners wag tans vir ʼn orgaanoorplanting en meer as 6 000 pasiënte sterf jaarliks voordat hulle ʼn geskikte skenker kry.

Berigte in Amerikaanse media het intussen onthul dat Bennett in 1988 ʼn man verskeie kere met ʼn mes gesteek het. Die slagoffer was verlam en rolstoelgebonde voordat hy in 2005 dood is. Bennett is destyds skuldig bevind aan dié misdaad.

Mediese etici meen egter dat ʼn persoon se vorige kriminele geskiedenis geen invloed op enige toekomstige behandeling moet hê nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Henri ·

Het jy die laaste 2 paragrawe gelees, Thom? Hy was ‘n veroordeelde moordenaar.

piet ·

So what Henri? Hy’t mos sy straf gekry volgens die regstelsel.

Henri ·

Ai, piet. Lees asseblief ALLES voor jy ‘n eier lê. Ek het net Thom daarop gewys waarom Miskruier oor vergifnis skryf. Dít staan so in die artikel.

Henri ·

Ai, piet. Lees asseblief ALLES voor jy ‘n eier lê. As jy die volle artikel lees en Miskruier en Thom se kommentaar, sal jy my kommentaar dalk verstaan.

Miena ·

Ek weet die mediese wereld moet vooruit gaan en toetse en eksperimente moet gedoen word…MAAR… daar is n rede mos hoekom mens en dier nie “compatible” kan wees of is nie. wonder maar net vir myself.

Boer ·

Ek stem dit is net so goed jy sit n TATA se spares in n BMW.

Piet 6 ·

Daardie BMW gaan darem nou “perform” soos geen ander BMW kan nie!

VaalDonkie ·

Miskien hou daar BMW langer as drie jaar as hy ‘n Tata enjin het XD

Knowitall ·

Dankie varkie, jy’t nie vergeefs gesterwe nie, jou hart het gehelp om geregtigheid te laat geskied.

Rudolph ·

Dit is nie vir mense genoeg dat jong varke mishandel n dood gemaak word vir die mens se smaak nie. Nou word varke geneties gamanipuleer, mishandel en doodgemaak om vir mense van ‘onderdele’ te voorsien. Die mens se verwaantheid en selfsugtigheid ken geen perke nie

piet ·

Meeste goed wat jy eet, is reeds geneties gemanipuleer (diere en plante) vir beter produksie.

Jan Nel ·

Het jy kinders?

Indien wel, sal jy twee keer dink om ‘n vark geneties te manipuleer en dood te maak in ruil dat jou kind kan leef?

Voilet ·

Geen persoon kan lewe met dier organe nie. Daar is ‘n rede dat God jou geskape het sonder dier organe

piet ·

Lyk asof varkniere en varkvel goed werk. Ek dink varkhartkleppe word ook al jare gebruik.

VaalDonkie ·

Party mense reken ek het ‘n paar organe van ‘n perd gekry. Seker waarom Ivermectin my so mooi teen Covid beskerm het.

SlinkseKoljander ·

As julle in sy skoene was so jy ook nie enige iets doen vir meer tyd nie? Goeie poging van die mediese wereld, ek hoop daar word geleer hieruit en die volgende een hou langer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.