Eerste seuns maak glo verskyning uit grot

Foto: AP Photo/Sakchai Lalit.

  • [Opvolg] Na wat verneem word is ten minste vier seuns reeds uit die grot bevry.

Die eerste twee van die 12 seuns en hul afrigter wat sedert 23 Junie in die Tham Luang Nang Non-grot in die Chiang Rai-provinsie in Thailand vasgekeer is, is glo uit die grot bevry.

BBC het op Twitter gesê twee ambulanse is gesien wat die toneel buite die grot verlaat. Die ambulanse vervoer na bewering twee van die seuns.

NBC News het op Twitter gesê polisiebeamptes naby die grot het aan verslaggewers gesê dat ten minste twee van die seuns gered is.

ABC news het ook gesê volgens owerhede is twee seuns uit die grot gered.

Die AFP nuusagentskap het getwiet dat beamptes op die toneel glo laat hoor het dat vier van die seuns in staat sal wees om uit die grot te loop.

Maroela Media het vroeër berig die reddingspoging het Sondagoggend om 10:00 (plaaslike tyd) begin. Time.com berig het vanoggend berig dertien duikers en vyf lede van die Thaise vloot het die grot vroegoggend binnegegaan. Die seuns sal glo een op ʼn slag uit die grot begelei word.

Foto: AP Photo/Sakchai Lalit.

Narongsak Osatanakorn, hoof van die reddingsoperasie, het gesê die span is 100% gereed. “Daar is ʼn storm op pad en as ons vir die reën wag, gaan die toestande nie so perfek wees soos dit nou is nie.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn voormalige lid van die Thai-vloot en vrywilliger, het verlede week gedurende ʼn nagtelike operasie gesterf in ʼn poging om suurstofhouers in die grot te plaas.

Volgens The Guardian is die oorledene as Samarn Kunan (38) geïdentifiseer. Die nuusinstansie berig Kunan het suurstoftenks in die grot geplaas ter voorbereiding van ʼn operasie om die seuns uit die grot te bring toe suurstoftekort hóm getref het.

Die 12 seuns, tussen 11 en 16 jaar oud, en hul 25-jarige sokkerafrigter is reeds twee weke in die grot vasgekeer. Die grot is bekend daarvoor dat dit tydens die reënseisoen erg oorspoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Elle ·

Ja Paul, my senuwees kan dit ook nie meer hou nie.
Ons kan net bid vir die seuns en hul families!
Kan jy jou voorstel so iets gebeur in SA en hoe onvoorbereid ons magte op so iets sou wees? Dankie aan MM wat ons op die hoogte te hou.

not in wonderland ·

Ek persoonlik ken ‘n paar duikers van formaat hier by ons in Suid-Afrika. Ek sal nie verbaas wees as hulle ook betrokke is by die reddingspoging nie.

Karen ·

Ses seun is tot dusver gered, maar reddingspogings vir eers weer gestop.

Army ·

Ek wonder wat die reddings-strategie was en hoe als verloop het?
MM moet ons ASB op die hoogte hou.
Het hul eers die sterker/ mees gesonde seuns uit die grot gered?
Terwyl die ” swakker” kinders intussen medies en voedsel-aanvullend versorg was totdat dit hul beurt is om uit die grot verwyder te word?
Ons kan maar net bid!
As God die Rooi-see tot stilstand kon bring kan Hy die Monsoon-reëns ook stop.

volla ·

Die swakkes is eerste gered. Die afrigter sal laaste gered word. Siende dat die eerste 4 reeds uit is, behoort dit makliker te gaan met die gesonder kinders.

Mariana ·

Ons genadige Hemelse Vader hou asb almal betrokke veilig in U liefdevolle hande. Amen

Essa ·

Wat ‘n massiewe reddings poging wat klaarblyklik met groot toewyding en uitstekende beplanning vir ‘n nood situasie gedoen word. Wat ‘n voorbeeld vir paraatheid met nood situasies. So jammer oor die vrywilliger wat sy lewe verloor het. Mag God hierdie mense genadig wees.

Wonder ·

Ek hoop nie iemand sien nou geleentheid om fopnuus uit te stuur nie.

Sonja ·

Nee, niemand lewer fopnuus nie. In Australië op die nuus het hulle gesê 6 is gered. Lyk my een wat daar betrokke was by die reddings operasie het gedink dis 6 en eintlik was dit net 4. Wat ook al, van hulle is uit, en ons moet maar aanhou bid vir die res en die wat daar help.

Robert ·

Hulle het saam met hull afrigter soontoe gery op hulle fietse (daar is iewers ‘n foto van hulle fietse by die ingang nadie grot) en in die grot geloop vir ontspanning. Hulle het nie besef die gevaar van oorstromings nie. Soos die water opgestoot het is hulle al hoe verder in die grot ingedwing. Dit wil voorkom of daar baie grotte is, dis dalk hoekom dit so lank gevat het om hulle op te spoor.

Linda van Mosselbaai ·

Ek dink almal wat al met kinders het bid saam dat hulle almal veilig uit sal kom – my mamma amper 92 is ook net so bekommerd oor hulle … Ek kan net die angs van die ma’s voorstel, asook die reddings werkers en die arme onderwyser. Jeug is verskriklik ondersoekend en hulle het mekaar seker aangepor om nog dieper in die grot in te gaan. Ons harte gaan uit na die familie van die redding werker wat sy lewe verloor het om die kinders te red!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.