Eerste sonkragpad in Frankryk geopen

Die sonkragpad in Tourouvre-au-Perche, Frankryk (skermgreep uit YouTube-video)

Die sonkragpad in Tourouvre-au-Perche, Frankryk (skermgreep uit YouTube-video)

Frankryk het die wêreld se eerste sonkragpad, genaamd Wattway, geopen.

Die 1 km lange roete in die dorpie Tourouvre-au-Perche is bedek met 2 800 vm² elektrisiteitsgenererende panele. Die minister van ekologie, Ségolène Royal, het Donderdag die pad ingehuldig.

Dit het €5 miljoen (ongeveer R73 miljoen) gekos en sal daagliks deur ongeveer 2000 motoriste gebruik word tydens ʼn twee jaar toetsperiode om te bepaal of dit genoeg energie kan opwek om die straatligte te kan laat werk in ʼn dorpie van 3 400 inwoners.

ʼn Sonkragaangedrewe fietsrypad is in 2014 in Krommenie in Nederland oopgemaak en, ondanks aanvanklike probleme, het dit 3 000 kWh energie opgewek – genoeg om ʼn gemiddelde huis vir ʼn jaar lank van krag te voorsien. Die koste van die fietsrypad kon egter vir 520 000 kWh betaal het.

Wattway se panele is by vier motorparke in Frankryk getoets. Die konstrukteur was Colas, deel van die groot telekommunikasiegroep Bouygues en dit is deur die regering gefinansier.

Tourouvre-au-Perche is geleë in Normandië, wat nie bekend is vir sy sonskyndae nie. Dié streek geniet slegs 44 dae sterk sonskyn per jaar, in vergelyking met 170 dae in Marseilles.

Royal het gesê sy sou graag wou sien dat sonkragpanele op een uit elke 1 000 km van snelweë in Frankryk geïnstalleer word. Frankryk het ongeveer 1 miljoen km paaie, maar panele wat op plat oppervlaktes geïnstalleer word, is minder doeltreffend as die panele wat op ʼn helling geïnstalleer word, of op dakke.

Kritici meen dit is nie ʼn kostedoeltreffende gebruik van publieke geld nie. Marc Jedliczka, visepresident van Network for Energetic Transition (CLER) het aan die Franse koerant Le Monde gesê dit is ongetwyfeld tegnologiese vooruitgang, maar tans is hulle meer seker dat dit duur is as of dit werk.

Jean-Louis Bal, president van die hernubare energie-vereniging SER, het gesê die koste, vervaardiging van elektrisiteit en lewensduur moet alles in ag geneem word. “Ons het nie op die oomblik die antwoorde nie.”

Volgens Colas is die panele met silikon bedek om seker te maak dat dit enige verkeer kan hanteer. Die maatskappy het gesê hy hoop om die kostes van die sonkragpanele te verminder en het ongeveer 100 ander projekte vir sonkragpaaie – die helfte in Frankryk en die res in ander lande.

Lees meer oor die projek: Wattway deur Colas

Bron: The Verge, The Guardian, ARS Technica

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

buks ·

Ek dink dit is idiaal vir SA want dit is moeliker om te steel en onkruid kan dit nie toe groei nie.

buks ·

As die opgewekte energie omgesit is in wissel stroom kan die elektriese motors van die toekoms se battetye laai terwyl die voertuig beweeg deur middel van onderandere n transformator of kontak.

GES ·

Ek sal bereid wees om tolgeld te betaal as my motor se batterye op die manier gelaai kan word. Puik idee!

John ·

…maar Frankryk por ons regering aan om oudmodiese atoomkragstasies te bou, terwyl hulle weg wil beweeg van gevaarlike kragopwekking en die gesonder gevorderde stelsels invoer. Skandalig hoe die Weste Afrika manipuleer en hulle dit toelaat … vir omkoopgeld?

Paul dB ·

Hierdie is ‘n grap! Sonkrag is nie lewensvatbaar sonder batterye nie. Batterye is erg toksies en skadelik vir die omgewing en die maak van son panele is ook maar erg sladelik vir die omgewing. Daarbenewens is die gebruik van sonpanele om lewensvatbare krag te verwek maar baie verdag om die minste te sê! Daar sal nog baie water in die see moet loop om hierdie vorm van kragopwekking werklik lewensvatbaar te maak!
In hierdie toepassing kan ek nie anders as om te wonder hoe bande op die oppervlak greep sal kan hou nie? Ek vermoed dat wanneer hierdie padoppervlak nat is, dit groot gevaar vir moteriste sal inhou….Die soek na sogenaamde alternatiewe kragbronne is bemoedigingswaardig en nodig, maar op hierdie stadium meer van ‘n droom as ‘n lewensvatbare werklik volhoubare oplossing. Kernkrag, steenkool en hidro-kragopwekking bly maar steeds die enigste werklike lewensvatbare vorme van elektriese kragopwekking!

Simon ·

Hierdie aanwending van sonkragtegnologie is die begin van iets nuuts.
Marco Polo het al te saam 24 jaar geneem om die Roete tussen Itali en die Orient te onder en te open.
As nuwe tegnologie nie teen astronomic se koste aan gewens word nie sal goedkoper alternatiewe nie uit die lug val nie.
Ek ewondwr die Franse vir hul poging om sonkrag op n uni eke wyse in te span.
Met meer gevorderde tegnologie as om te reise met kameras het Vaso da Gama dit reg gekry om in twee jaar die roete na Indie en terug te open

Simon ·

Hierdie aanwending van sonkragtegnologie is die begin van iets nuuts.
Marco Polo het al te saam 24 jaar geneem om die roete tussen Italie en die Orient te ondersoek en te open hoofsaaklik met kamele.
As nuwe tegnologie nie teen astronomiese koste aangewend word nie sal goedkoper alternatiewe nie uit die lug val nie.
Ek bewonder die Franse vir hul poging om sonkrag op n unieke wyse in te span.
Met meer gevorderde tegnologie as om te reise met kamel, het Vaso da Gama dit reg gekry om in twee jaar die roete na Indie en terug te open

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.