Effense verligting tydens veldbrande in Australië

Kurrajong Heights, New South Wales (23 Desember 2019) (Foto: Ingleside Rural Fire Brigade via AP)

Dele van Australië wat deur verwoestende veldbrande geruk is, het Woensdag tydelike verligting ervaar danksy koel en klam toestande op Kersdag.

Ongeveer 5 miljoen hektaar grond is die afgelope paar maande deur veldbrande verwoes. Minstens nege persone is dood en meer as 950 huise verwoes. New South Wales is die swaarste getref waar ongeveer 850 huise verwoes is.

Meer as 70 brande woed egter steeds voort oor die staat heen. ʼn Sewe dae lange noodtoestand is in New South Wales afgekondig en dit verstryk Woensdagaand.

Ongeveer 2 000 brandbestryders en 400 brandweerwaens bestry die brande in gunstiger omstandighede, maar hoë temperature sal na verwagting terugkeer. Sydney sal na verwagting Sondag 31°C haal en woonbuurte in die weste van die stad sal tot 41°C beleef.

Die risiko vir brandgevaar bly hoog in die noordweste van New South Wales.

Scott Morrison, eerste minister, het in sy jaarlikse Kersfeesboodskap ʼn huldeblyk gelewer vir die families van die twee brandbestryders, Geoffrey Keaton (32) en Andrew O’Dwyer (36), wat verlede week dood is tydens die veldbrande. “Aan Andrew en Geoffrey se ouers, ons weet dit gaan ʼn hartseer Kersfees wees vir julle. Die eerste een sonder dié twee wonderlike mans,” het hy gesê.

“Baie dankie aan diegene wat ons land dien, wat as vrywilligers die brande bestry terwyl ons praat.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.