Altesaam 529 mense is Maandag ter dood veroordeel in ʼn hof in Egipte, en 700 persone wat glo ondersteuners is van die onttroonde president Mohamed Morsi het Dinsdag in die hof verskyn.
Prokureurs sê hulle gaan eis dat die regter homself verskoon nadat hy Maandag die doodstraf opgelê het ná slegs twee verhore.
Regskenners het gesê die ongeëwenaarde vonnisse sal moontlik ná appèlaansoeke teruggetrek word.
Die haastige vonnisse het internasionaal opslae gemaak.
Die nagenoeg 1 200 persone word beskuldig van moord en poging tot moord op verskeie polisiebeamptes tydens betogings op 14 Augustus 2013, toe die polisie honderde Morsi-ondersteuners doodgeskiet het.
Amerika, die Europese Unie en regsgroepe het die vonnisse veroordeel. Marie Harf, woordvoerder vir die Amerikaanse staatsdepartement het die regverdigheid van die verhoor bevraagteken nadat die hofsaak slegs twee dae lank geduur het. Daar was ʼn openingsessie Saterdag en die beskuldigdes is Maandag gevonnis.
Slegs 153 van die 529 persone wat Maandag gevonnis is, was in die hof. Die res is in absentia gevonnis en kan moontlik weer ʼn verhoor kry as hulle hulself oorgee. Altesaam 17 beskuldigdes is vrygespreek.
Minstens 1 400 mense is dood toe Morsi-aanhangers vasgetrek is en duisende is in hegtenis geneem. Morsi is tans betrokke by drie hofsake. Die weermag het Egipte se eerste demokratiese president ná slegs ʼn jaar onttroon ná massabetogings wat sy bedanking geëis het. -SAPA
Bring ASB die Regter Suid Afrika toe …
So gou as moontlik.