Egipte se Hosni Moebarak sterf

Hosni Moebarak, ontsetelde oudpres. van Egipte, waai in 2013 van agter tralies vir sy ondersteuners. (Foto: AP)

Die voormalige Egiptiese leier Hosni Moebarak is Dinsdag in die ouderdom van 91 dood.

Moebarak was byna 30 jaar lank simbool van bestendigheid in die Midde-Ooste, voordat die weermag hom in 2011, tydens dae lange protesoptrede wat later deel van die sogenaamde Arabiese Lente gevorm het, gedwing het om te bedank.

Moebarak was ʼn stoere bondgenoot van die VSA, ʼn skans teen Islamitiese militantheid en ʼn beskermheer van Egipte se vrede met Israel. Maar vir die duisende jong Egiptenare wat 18 dae lank genadeloos op veral die hoofstad Kaïro se Tahrir-plein teen sy bewind betoog het, was Moebarak ʼn oorblyfsel uit ʼn antieke tyd, ʼn hedendaagse farao.

Hulle is aangespoor deur die oproer in Tunisië en het die mag van sosiale media gebruik om kapsie te maak teen die bewerings van korrupsie en brutaliteit wat altyd soos ʼn wolk oor sy bewind gehang het.

Egiptiese staatstelevisie het berig Moebarak is dood in ʼn hospitaal in Kaïro waar hy ʼn ongespesifiseerde operasie ondergaan het. Luidens die berig het Moebarak gesondheidsprobleme ondervind, maar geen ander besonderde is bekend gemaak nie.

Een van sy seuns, Alaa, het die afgelope naweek gesê die oudpresident word in die intensiewe sorgeenheid van ʼn hospitaal behandel nadat hy die operasie ondergaan het.

Hosni Moebarak. (Foto: Nasser Nasser)

Moebarak en sy voormalige veiligheidshoof is in Junie 2012 skuldig bevind en lewenslange tronkstraf opgelê omdat hulle versuim het om die dood van sowat 900 betogers tydens die 18 dae lange betogings te verhoed. Albei het teen die uitspraak geappelleer en ʼn hoër hof het hulle in 2014 van alle blaam onthef.

Die besluit het talle Egiptenare stom gelaat en duisende mense het na die hoofstad gestroom om teen die uitspraak te betoog.

Moebarak en sy twee seuns – die skatryk sakeman Alaa, en Gamal, wat sy pa waarskynlik sou opvolg – is tydens ʼn herverhoor drie jaar tronkstraf opgelê vir aanklagte van korrupsie. Die seuns is in 2015 vrygelaat en Moebarak in 2017.

Sedert hy in April 2011 in hegtenis geneem is, het Moebarak bykans ses jaar van sy tyd agter tralies in die hospitaal deurgebring. Ná sy vrylating is hy na ʼn woonstel in Kaïro se Heliopolis-distrik geneem.

Duisende betogers het in 2011 dae lank in die Egiptiese hoofstad teen Moebarak se bewind betoog. (Foto: Al Jazeera)

Vir ʼn man wat jare lank onaantasbaar was – selfs ʼn woord van kritiek in die media was vir die grootste gedeelte van sy bewind verbode – was die lewe in die tronk ʼn reuseskok. Toe hy in 2011, ná die hofverrigtinge, tronk toe geneem is, het Moebarak gehuil en verseg om uit die helikopter te klim.

Moebarak het oor die jare gemik in die rigting van hervorming, maar enige groot veranderings afgeskiet en homself voorgehou as Egipte se enigste behoud teen Islamitiese militante en verdeeldheid. Nadat die VSA druk op hom geplaas het om die land te begin hervorm, het dié eertydse bondgenote van mekaar vervreemd geraak. Uit vrees dat sy alliansie met die magtigste Arabiese land heeltemal in die slag kan bly, het Washington die aftog geblaas.

Amper 900 mense is in 2011 tydens die betogings in Egipte dood. (Foto: history.com)

Moebarak se versuim om sy beloftes gestand te doen het al hoe groter desperaatheid onder mense veroorsaak en diegene wat ʼn demokratiese toekoms wou hê was geskok om te sien hoe Moebarak oënskynlik stappe begin doen om sy seun, Gamal Moebarak, as sy opvolger aan te wys.

Moebarak is in Mei 1928 gebore en was op 14 Oktober 1981 die adjunkpresident toe Islamitiese ekstremiste sy mentor, pres. Anwar Sadat, tydens ʼn militêre parade in ʼn sluipmoordaanval om die lewe gebring het.

Moebarak het langs Sadat gesit en het net ʼn geringe besering aan sy hand opgedoen toe gewapende aanvallers koeëls op die pawiljoen laat reën het.

Die voormalige lugmagbevelvoerder is agt dae later as president van Egipte beëdig en het onderneem om kontinuïteit en orde na te streef.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.