Egipte sê vliegtuigwrak is gevind

Foto: EgyptAir

Foto: EgyptAir

Die Egiptiese owerheid het gesê die wrak van die EgyptAir-vliegtuig wat verlede maand in die Middellandse See neergestort het, is gevind.

EgyptAir se vlug MS804 het op 19 Mei van Parys na Kaïro gevlieg. Die radar wys die vliegtuig het 90 grade links gedraai, toe ʼn volle 360 grade na regs voor dit van 11 km af tot 4,5 km geval het. Die vliegtuig het op ʼn hoogte van 3 km van die radar verdwyn. Al 66 mense aan boord die vliegtuig het omgekom.

Volgens die ondersoekkomitee wat deur die Egiptiese regering aangestel is, het ʼn vaartuig foto’s van die wrakstukke tussen die Griekse eiland Kreta en die Egiptiese kus bekom. Die vaartuig beskik oor sonar en ander toerusting wat wrakstukke kan waarneem tot ʼn diepte van 1,8 km.

Volgens uitgelekte vlugdata het ʼn sensor rook waargeneem in ʼn badkamer en ʼn fout in twee van die vliegtuig se kajuitvensters in die laaste oomblikke van die vlug. Die presiese oorsaak van die ongeluk is nog nie vasgestel nie.

Sedert die vliegtuig neergestort het, is daar nog net klein wrakstukke en menslike oorskot gevind. Sherif Fathi, Egipte se minister van lugvaart, glo terreur is ʼn meer waarskynlike verduideliking as toerusting wat ingegee het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.