Egpaar dekades later van baba se dood aangekla

Robin Lynn Byrum en Scott Gordon Poole staan nou tereg op die verberging van ’n kind se geboorte. (Foto: Nags Head-polisie)

’n Amerikaanse egpaar word nou ná drie dekades aangekla nadat die oorskot van ’n baba in die vroeë 90’s in ’n asblik in die deelstaat Noord-Carolina gevind is.

Scott Gordon Poole (54) en sy vrou, Robin Lynn Byrum (51), word voorlopig van die verberging van ’n kind se geboorte aangekla nadat DNS-toetse hulle met die baba verbind het.

Die saak dateer terug na 1991 toe polisiebeamptes op 4 November op die oorskot van ’n baba in ’n asblik in die suide van Nags Head afgekom het. Die polisiebeamptes kon destyds nie dadelik die baba se geslag bepaal nie aangesien die lykie reeds begin ontbind het.

Die polisiehoof van Nags Head, Phil Webster, sê polisieondersoekers het oor die jare alle beskikbare bewyse oor en oor nagegaan.

Poole en Byrum is eindelik met die baba verbind nadat die polisie in 2019 een van die baba se ribbebene vir forensiese ontleding na ’n private laboratorium in Texas gestuur het. Menslike DNS is op die ribbebeen gevind en dié bewyse is gebruik om ’n genealogiese profiel te skep, wat ondersoekers eindelik na Poole en Byrum gelei het.

“Die tragedie van hierdie kind se dood en die manier waarop van die liggaam ontslae geraak is, word vererger deur die feit dat daar tot nou toe niemand verantwoordelik gehou is vir hierdie ongelooflike hartverskeurende daad nie,” sê Webster.

“Maar weens die harde werk van die Nags-polisieondersoekers en ons wetstoepassingsvennote in die saak, sal diegene wat dit gedoen het aanspreeklik gehou word vir ’n dood wat vir drie dekades onopgelos gebly het.”

Die egpaar, van Taylorsville in Noord-Carolina, is verlede Donderdag in hegtenis geneem en sedertdien in aanhouding. Hulle borgtog is op $250 000 (sowat R3 miljoen) gestel.

“Hierdie inhegtenisnemings is die resultaat van baie jare se ywerige ondersoek deur ons hoogs opgeleide en toegewyde wetstoepassers,” sê Ben Cahoon, burgemeester van Nags Head.

“Terwyl hulle verantwoordelik is om op ongelukke en misdade te reageer, moet hulle ook die onskuldiges verdedig. Hierdie geval is ’n ware voorbeeld daarvan,” meen die burgemeester.

Die ondersoek duur voort en nog aanklagte kan moontlik bygevoeg word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Shakespeare ·

Lang arm van die gereg het hul ingehaal. Dit wil gedoen wees. Ons in RSA se SAP het gladnie meer arms nie.

madels ·

Alles wat in die donker gedoen word SAL in die lig kom. Ek vertroos my daarby dat die Here dit belowe het. Ek kry hulle jammer want ongelukkig het hul sondige natuur oorgeneem, daar is ALTYD vergifnis in Jesus. Maar omdat hulle Hom nie ken nie moet hulle nog boet vir hul dade en al het hulle Hom geken moet hul nog steeds die gevolge dra vir wat hulle gedoen het. Hoe tragies dat die mensdom net so harteloos geword het. Ek bid dat hulle by Jesus sal uitkom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.