Egpaar se inisiatief roer harte ná dogter skielik sterf

Lumé (Foto: Verskaf)

Op ʼn laatoggend in Junie 2006 het ʼn jong Namibiese egpaar met hul eerste bondeltjie by die deure van ʼn hospitaal in Windhoek uitgestap. Dit was die meeste vreugde wat albei ouers nóg ervaar het; en sáám sou hulle berge versit om dié “bondeltjie vreugde” ten alle koste te beskerm.

Op ʼn koel wintersmiddag op 2 Julie verlede jaar – byna presies 11 jaar nadat Sybrand en Ronel de Beer vir die eerste keer die hospitaal verlaat het – het die egpaar weer deur dieselfde deure geloop; dié keer sonder hul kind.

Die De Beer-egpaar was verpletter oor Lumé (11) se dood: Daar was geen duidelike tekens dat sy dodelik siek raak nie, haar dood was nie as gevolg van verkeerde keuses of ʼn botsing nie en daar was byna nie eens tyd om te groet nie. Die een oomblik was sy daar en die volgende oomblik was sy bloot weg.

Vanjaar – byna ʼn jaar ná Lumé se dood – leef dié 11-jarige se nalatenskap steeds voort nadat die De Beers in samewerking met Windhoek Afrikaanse Privaatskool met die internasionale Buddy Bench-inisiatief in Windhoek begin het.

Ronél, Lumé se ma, vertel aan Maroela Media sy en Sybrand was “absoluut gebroke” ná Lumé se dood.

“Sy was binne byna 48 uur vanaf die netbalbaan tot in die hemel,” vertel De Beer. “Sy is skielik van ons af weggeruk.”

Lumé het die Donderdag voor haar dood verlede jaar nog saam met maats netbal gespeel. Hoewel De Beer opgemerk het dat sy moeër as altyd voorgekom het, het sy nie onraad vermoed nie. Nadat sy Lumé oor haar spel uitgevra het, was Lumé se antwoord eenvoudig: “Mamma, ʼn mens kan nie altyd ʼn opdag hê nie. Mens mag ʼn afdag ook hê.”

Ronel en Sybrand en hul dogters Charné en Danika (Foto: Verskaf)

Vrydag ná skool het Lumé steeds nie gesê dat sy siekerig voel nie en sy het ook geen simptome getoon dat sy dodelik siek is nie; sy het nog netbal met haar sussies op die gras gespeel. Saterdagoggend het sy effens koorsig geraak, die middag gaan slaap, en vanaf 17:00 begin hoes.

“Sy was altyd baie lewendig en het van daar af baie tam en moeg voorgekom. Ons het ʼn funksie gehad om by te woon en hulle sou by maatjies kuier. Sy het aangedring om steeds daarby te hou. Ons het haar toegelaat, want my kinders was voorheen al siek, ek het gedink ek sal die koors net monitor, en haar die volgende dag hospitaal toe neem as die grieperigheid nie beter word nie.

“Saterdagaand na 20:00 , het ons boodskappe gekry dat sy swaar asem haal en of ons haar nie wil gaan haal nie. Eers het die oppassers haar in opdrag van my genebuliseer en sy was rustiger volgens hulle. So net ná 22:00 het sy angstig geraak, en ek het besluit om haar te gaan haal. Ek is onmiddellik met haar hospitaal toe waar die dokter vir haar antibiotika gegee het vir longontsteking. Sy is op suurstof gesit omdat sy begin kla het dat sy nie lekker asemhaal nie. Die dokter wou haar ontslaan, maar ek het aangedring dat sy opgeneem word omdat haar suurstofvlakke nie wou herstel nie.”

Die egpaar is Sondagoggend net ná 02:00 huis toe, maar weer om 04:00 na die hospitaal ontbied. Die dokters het intussen x-strale geneem en vog op haar longe opgemerk. Die bakterie staphylococcus aureus – ʼn bakterie wat ʼn membraan in die long as’t ware aanval en uiteindelik veroorsaak dat die longe vol bloed loop en dus geen suurstof meer na ander organe versprei nie – het haar longe infiltreer. Die toestand staan ook bekend as akute respiratoriese noodsindroom.

Die De Beer-gesin saam met Juanita du Plessis, Ronel se niggie, by Lumé se begrafnis (Foto: Verskaf)

“Nadat ons om 04:30 by die hospitaal aangekom het, was dit byna soos ʼn wegholtrein. Niks kon dit keer nie. Haar longe was reeds vol bloed en die bakterie was ook reeds in haar bloedstroom. Ek kon nie groet nie, ek kon nie rustig met haar praat nie en ek kon nie vir haar bid nie. Ek weet ook nie of ek vir haar sou bid nie – die skok was so groot dat ek verlam was. Al wat ek kon doen, is by haar voete staan en sê sy moet rustig probeer wees – sy wou so graag net water hê, en ek het haar lippe natgemaak met water.

“Lumé het gesukkel en gestoei. Net voordat sy gesedeer is vir die inkubasie, het sy drie keer regop gekom, voor haar uitgewys met haar vinger en gesê: ‘Mamma, kyk! Mamma, daar!’ Sy het vir seker iets of iemand gesien van wie ek nie bewus was nie. Ons het haar elke keer net platgedruk en gesê sy moet kalmeer, maar sy het elke keer weer regop gekom. Ek glo die Here het haar reeds ingewag.”

Die egpaar is kort hierna gevra om die vertrek te verlaat terwyl dokters kardiopulmonêre resussitasie (KPR) uitgevoer het. Ná sowat 15 minute het die dokter uitgekom en die verdoemende nuus aan die egpaar oorgedra: Lumé was dood.

Eers ná haar dood het die De Beer-egpaar onder die indruk gekom van Lumé se nalatenskap en hoeveel ander lewens sy geraak en beïnvloed het. “Ons was oorweldig deur almal se ondersteuning ná haar dood,” vertel Ronel. “Daar was meer as 1 000 mense by haar begrafnis. Later het die kinders in die skool vertel van die wonderlike invloed wat sy op almal gehad het, vir hoeveel mense sy omgegee het en in hoeveel lewens sy iets positief beteken het.

Die boom en Buddy Bench wat op die skoolterrein opgerig is (Foto: Verskaf)

“Haar hele graad en ander kinders van die skool, het ná haar dood aan ons briefies geskryf wat ons laat besef het watter impak haar kort lewetjie gehad het. Ons sou hoor dat sy soggens by die skool sou instap met ʼn warm glimlag en almal sou druk. As sy gesien het dat iemand alleen sit, sou sy hulle ʼn drukkie gaan gee en vir hulle ʼn grappie vertel en dat alles oukei sal wees. As nuwe maatjies by die skool ingeskryf het, sou sy ʼn punt daarvan maak om hulle te gaan wys waar is al die geriewe as sy sien hul verdwaal. Keer op keer sou ons hoor hoe stil die klas nou is sonder haar. En dit was erg – dit het my en Sybrand laat besef hoe belangrik dit is om jou kind op alle vlakke te leer ken. Soms is die lewe so gejaagd dat jy bloot net by alles uitkom; maar ons weet nou hoe belangrik gehaltetyd saam met jou geliefdes en veral kinders is.”

Dit was die skoolhoof, Elna de Jager, asook skoolvriende wat De Beer aanvanklik van die “Maak ʼn maat, wees ʼn maat”-inisiatief van Buddy Bench vertel het. Dié inisiatief behels dat ʼn bankie op ʼn skoolterrein opgerig word waar kinders wat alleen, hartseer of eensaam is, kan gaan sit met die idee dat ander leerders weet dat hulle vertroosting of ʼn skouer benodig.

“Die missie van die veldtog het vir ons so in lyn met Lumé se eienskappe geklink,” vertel sy. “Ons het toe besluit om borge betrokke te kry en die bankie op te rig. Nou kan dié bankie wees wat Lumé vir so baie van die kinders was: As hulle ʼn maatjie of geselskap nodig het, kan hulle net daar gaan sit. En daarmee saam leer ʼn mens jong kinders oor eensaamheid en boeliery en hoe belangrik dit is om vir mekaar om te gee. Ons Lumé is dalk nie meer hier nie, maar haar nalatenskap is wel, en dít kan dalk iets vir iemand beteken.”

Die De Beer-egpaar het onlangs saam met die sanger Ruan Josh, seun van Juanita du Plessis (De Beer se niggie), ʼn gedig aan Lumé opgedra. Hier is ʼn uittreksel uit die gedig:

Warrelmens, my sonskyn-kind
Ligdraer van God
Duif in die wind
ʼn Warrel deur en in ons harte
ʼn Straal, verwyder van smarte
ʼn Willewragtig van lus
ʼn Vuur wat mens nie kon blus

Hierdie wêreld nie te verstaan
Die werklikheid dat als vergaan
Gejaag na wind, kon tyd ons nie bind.
Ons skatte nou by jou, my kind
Ons sal jou mis engel-kind
In elke eggo sal ons jou vind

Die egpaar beoog om die Buddy Bench-veldtog nou ook na ander Namibiese skole uit te brei. Vir meer inligting oor die gesin, die veldtog of om die volle gedig te lees, besoek die gesin se Legacy of Love-webwerf.

Die De Beer-gesin by Lumé se begrafnis (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

chris ·

Kon nie die trane keer nie hoe hartseer is dit nie.
Ek dink die buddy bench is n wonderlike idee .

Chris-Mari ·

Ek lê langs my dogtertjie sodat sy aan die slaap raak, en lees die artikel raak. Skielik loop die trane en wil ek my net doodhuil ????

Sam ·

Ek huil hier waar ek sit, dis baie mooi. Sterkte aan die familie.

AmY ·

Meeste mense sal in hulle hele leeftyd nie so baie mense se lewens aanraak as wat hierdie pragtige kind in haar kort leeftyd gedoen het nie.

Fanus Jacobs ·

Eerstens wil ek graag my medelye aan die de Beer familie getuig, die hartseer en verlange na jul kind moet ondraaglik wees.
Die verhaal van jul dogter is amper woord vir woord dieselfde as myne. Ek het ook grieperig geword maar aangegaan met die daaglikse goed, op die ou einde ook binne 48 uur in die hospitaal beland en die dokters het impliseer dat ek nie die nag sal oorleef. Varkgriep het totale longversaking veroorsaak. Die dokters het alles binne die vermoë van die mediese wetenskap gedoen en erken dat dit net die genade van God is wat my kon red. 50 dae later is ek huistoe met die verwagting dat ek vir die res van my lewe van ‘n suurstof silinder afhanklik sou wees. Nou amper 2 jaar later is ek gesond en heetemal onafhanklik van die suurstof.

Jul verhaal het my hart geruk en al die emosie weer na vore gebring. Die tyd van onsekerheid waardeur my vrou en die seuns gegaan het, het hulle ook verslae gelaat. Ek is dankbaar dat my lewe gespaar is en is so hartseer vir julle oor die verlies van jul pragtige dogter.
Ek glo dat jul Buddy Bench Veldtog vir altyd tot eer sal wees van julle dogter se nalatingskap.

Sybrand de Beer ·

Fanus, dankie vir die deel van jou storie. Dit is ongelooflik om te sien hoe God werk met almal in hierdie storm situasies. Jou lewe is verseker daardeur aangeraak en verander, net so is ons s’n ook. As jy op ons Legacy of Love website gaan kyk onder Stories is daar nog n storie baie soos joune. So inspirerend om te sien hoe wonderwerke vandag nog gebeur.

Meraai ·

Trane loop hier waar ek sit by die werk! Gee nie om wat n klient sou dink as hy nou hier in stap in my kantoor………….My hart is seer vir Mamma en Pappa en Familie,sterkte voorentoe julle is in ons gebede.

Martin ·

Ek het nou baie hard gesluk om nie hier by die werk te huil nie. Ek weet somer sy was ‘n ligstraal vir almal wat haar geken het. Sterkte aan die familie. Ek weet die seer is nog baie vlak in jull eharte. Rus in Vrede klein Lumé.

Russell Pitchers ·

Laerskool Warrenton het in 2017 ‘n seun Stefan Roux (Gr. 2) verloor in ‘n motor ongeluk. Die skool het ‘n boom ter nagedagtenis van hom in die skool se vierkant geplant. Ek gaan defnitief met Buddy Bench skakel en ons gaan ook met hierdie aksie by die skool begin. Wonderlik. Baie sterkte aan die familie, sal later graag kontak wil maak met hulle, aangesien my seun geruime tyd in Windhoek krieket gespeel het.

Sybrand de Beer ·

Russel, dit is n wonderlike idee om die projek by Laerskool Warrenton onder die boom te doen. Dit sal klein Stefan se legacy ook verder vat. Kontak ons gerus indien jy meer inligting benodig

treurgrond ·

Ek huil ook hier in my binneste – kry koue rillings. Sy het duidelik vir God gesien wat haar kom inwag het. Lume jy was ‘n rots vir ander mense wat jou nooit ooit gaan vergeet nie. Dis so hartseer. Ek kan nie verder praat nie – sit met ‘n knop in my keel waar ek hier sit en bid vir haar familie en almal.

TLC ·

Mamma Pappa en 2 prag sussies My hart huil vir julle Na al die jare en Lumé het n blywende indruk en nalatenskap gelos Hoe trots en hoe seer Dit wat na haar dood by die skool met die maaitjie bankie moet by elke skool gedoen word Ek ken julle nie Maar ek weet jul is baie trots op haar en sy kyk baie trots af na julle xxx

Johanné ·

Hoekom haar nie ‘n legend maak en die bankie Lumé-buddy-bench noem nie?

Spesiaal ·

Sy klink na n besonderse mens, ek wens daar was iemand soos sy in my skool toe ek nog n kind was.

Hanlie ·

Ek sit en huil hier waar ek lees. My hart huil vir julle. My Pa het altyd gese dat Jesus kom sy kindertjies haal wanneer hulle klaar hulle werkies gedoen het. As ek so lees dan het sy ‘n baie belangrike werkie by die skool gedoen in die ander kinders se lewens. Die buddy-bankie en die kinders gaan nou haar werkie voortsit.

latie ·

my hartjie so baie seer dis sien hoe wonderwerk daai kind gese het en weet dit klaar dat sy by YASHUA HALLELUHAH geseende jul familie .

anton ·

Ek as n groot man het lanklaas so gehuil na hierdie tragiese storie.
Gelukkig sit ek alleen en ek hoef nie te bekommer dat iemand al my trane sal sien.
Die wereld is tog so stukkend en dan sit ek nog met soveel vrae. Die hoekoms en waaroms en soveel dinge wat nie altyd sin maak in die lewe nie.
Vrae wat net God eendag sal kan antwoord.
Hoop ek sal die voorreg he om Hom dit eendag te mag vra.

Rozelle ·

My hart gaan so uit na die ouers. Ek self het my seuntjie van 4 jaar, 5 maande terug verloor aan die staph bakteriee en dis verplettend hoe ‘n klein mens so vinning van ‘n mens af weg gevat kan word. Dis nie net verplettend nie maar onregverdig ook.

Dit is amazing om te sien hoe haar naam voort leef en dis een van die belangrikste ding om te doen, is om hulle te onthou en te vier vir wie hulle was!

Liefde en seeninge aan die ouers.

Gesiggie ·

My hart ruk in 2.. om die hartseer verhaal te lees, en te kyk na die prag van n kind wat so skielik van Mamma, Pappa en die 2 sussies weggeneem is… en nou n jaar later die rou, die seer en al die verlange… en om die mooiste woorde te lees van die gedig.. wat spesiaal vir haar geskryf is…. sterkte aan die ouers wat soveel verlange het, die twee sussies wat hul sus so mis… sy is God se Engel kind… sy sien al jul seer en jul verlange…. en sy weet jul het haar baie Lief gehad…sy sal in Gees altyd met jul wees…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.