Egpaar se inisiatief roer harte ná dogter skielik sterf

Lumé (Foto: Verskaf)

Op ʼn laatoggend in Junie 2006 het ʼn jong Namibiese egpaar met hul eerste bondeltjie by die deure van ʼn hospitaal in Windhoek uitgestap. Dit was die meeste vreugde wat albei ouers nóg ervaar het; en sáám sou hulle berge versit om dié “bondeltjie vreugde” ten alle koste te beskerm.

Op ʼn koel wintersmiddag op 2 Julie verlede jaar – byna presies 11 jaar nadat Sybrand en Ronel de Beer vir die eerste keer die hospitaal verlaat het – het die egpaar weer deur dieselfde deure geloop; dié keer sonder hul kind.

Die De Beer-egpaar was verpletter oor Lumé (11) se dood: Daar was geen duidelike tekens dat sy dodelik siek raak nie, haar dood was nie as gevolg van verkeerde keuses of ʼn botsing nie en daar was byna nie eens tyd om te groet nie. Die een oomblik was sy daar en die volgende oomblik was sy bloot weg.

Vanjaar – byna ʼn jaar ná Lumé se dood – leef dié 11-jarige se nalatenskap steeds voort nadat die De Beers in samewerking met Windhoek Afrikaanse Privaatskool met die internasionale Buddy Bench-inisiatief in Windhoek begin het.

Ronél, Lumé se ma, vertel aan Maroela Media sy en Sybrand was “absoluut gebroke” ná Lumé se dood.

“Sy was binne byna 48 uur vanaf die netbalbaan tot in die hemel,” vertel De Beer. “Sy is skielik van ons af weggeruk.”

Lumé het die Donderdag voor haar dood verlede jaar nog saam met maats netbal gespeel. Hoewel De Beer opgemerk het dat sy moeër as altyd voorgekom het, het sy nie onraad vermoed nie. Nadat sy Lumé oor haar spel uitgevra het, was Lumé se antwoord eenvoudig: “Mamma, ʼn mens kan nie altyd ʼn opdag hê nie. Mens mag ʼn afdag ook hê.”

Ronel en Sybrand en hul dogters Charné en Danika (Foto: Verskaf)

Vrydag ná skool het Lumé steeds nie gesê dat sy siekerig voel nie en sy het ook geen simptome getoon dat sy dodelik siek is nie; sy het nog netbal met haar sussies op die gras gespeel. Saterdagoggend het sy effens koorsig geraak, die middag gaan slaap, en vanaf 17:00 begin hoes.

“Sy was altyd baie lewendig en het van daar af baie tam en moeg voorgekom. Ons het ʼn funksie gehad om by te woon en hulle sou by maatjies kuier. Sy het aangedring om steeds daarby te hou. Ons het haar toegelaat, want my kinders was voorheen al siek, ek het gedink ek sal die koors net monitor, en haar die volgende dag hospitaal toe neem as die grieperigheid nie beter word nie.

“Saterdagaand na 20:00 , het ons boodskappe gekry dat sy swaar asem haal en of ons haar nie wil gaan haal nie. Eers het die oppassers haar in opdrag van my genebuliseer en sy was rustiger volgens hulle. So net ná 22:00 het sy angstig geraak, en ek het besluit om haar te gaan haal. Ek is onmiddellik met haar hospitaal toe waar die dokter vir haar antibiotika gegee het vir longontsteking. Sy is op suurstof gesit omdat sy begin kla het dat sy nie lekker asemhaal nie. Die dokter wou haar ontslaan, maar ek het aangedring dat sy opgeneem word omdat haar suurstofvlakke nie wou herstel nie.”

Die egpaar is Sondagoggend net ná 02:00 huis toe, maar weer om 04:00 na die hospitaal ontbied. Die dokters het intussen x-strale geneem en vog op haar longe opgemerk. Die bakterie staphylococcus aureus – ʼn bakterie wat ʼn membraan in die long as’t ware aanval en uiteindelik veroorsaak dat die longe vol bloed loop en dus geen suurstof meer na ander organe versprei nie – het haar longe infiltreer. Die toestand staan ook bekend as akute respiratoriese noodsindroom.

Die De Beer-gesin saam met Juanita du Plessis, Ronel se niggie, by Lumé se begrafnis (Foto: Verskaf)

“Nadat ons om 04:30 by die hospitaal aangekom het, was dit byna soos ʼn wegholtrein. Niks kon dit keer nie. Haar longe was reeds vol bloed en die bakterie was ook reeds in haar bloedstroom. Ek kon nie groet nie, ek kon nie rustig met haar praat nie en ek kon nie vir haar bid nie. Ek weet ook nie of ek vir haar sou bid nie – die skok was so groot dat ek verlam was. Al wat ek kon doen, is by haar voete staan en sê sy moet rustig probeer wees – sy wou so graag net water hê, en ek het haar lippe natgemaak met water.

“Lumé het gesukkel en gestoei. Net voordat sy gesedeer is vir die inkubasie, het sy drie keer regop gekom, voor haar uitgewys met haar vinger en gesê: ‘Mamma, kyk! Mamma, daar!’ Sy het vir seker iets of iemand gesien van wie ek nie bewus was nie. Ons het haar elke keer net platgedruk en gesê sy moet kalmeer, maar sy het elke keer weer regop gekom. Ek glo die Here het haar reeds ingewag.”

Die egpaar is kort hierna gevra om die vertrek te verlaat terwyl dokters kardiopulmonêre resussitasie (KPR) uitgevoer het. Ná sowat 15 minute het die dokter uitgekom en die verdoemende nuus aan die egpaar oorgedra: Lumé was dood.

Eers ná haar dood het die De Beer-egpaar onder die indruk gekom van Lumé se nalatenskap en hoeveel ander lewens sy geraak en beïnvloed het. “Ons was oorweldig deur almal se ondersteuning ná haar dood,” vertel Ronel. “Daar was meer as 1 000 mense by haar begrafnis. Later het die kinders in die skool vertel van die wonderlike invloed wat sy op almal gehad het, vir hoeveel mense sy omgegee het en in hoeveel lewens sy iets positief beteken het.

Die boom en Buddy Bench wat op die skoolterrein opgerig is (Foto: Verskaf)

“Haar hele graad en ander kinders van die skool, het ná haar dood aan ons briefies geskryf wat ons laat besef het watter impak haar kort lewetjie gehad het. Ons sou hoor dat sy soggens by die skool sou instap met ʼn warm glimlag en almal sou druk. As sy gesien het dat iemand alleen sit, sou sy hulle ʼn drukkie gaan gee en vir hulle ʼn grappie vertel en dat alles oukei sal wees. As nuwe maatjies by die skool ingeskryf het, sou sy ʼn punt daarvan maak om hulle te gaan wys waar is al die geriewe as sy sien hul verdwaal. Keer op keer sou ons hoor hoe stil die klas nou is sonder haar. En dit was erg – dit het my en Sybrand laat besef hoe belangrik dit is om jou kind op alle vlakke te leer ken. Soms is die lewe so gejaagd dat jy bloot net by alles uitkom; maar ons weet nou hoe belangrik gehaltetyd saam met jou geliefdes en veral kinders is.”

Dit was die skoolhoof, Elna de Jager, asook skoolvriende wat De Beer aanvanklik van die “Maak ʼn maat, wees ʼn maat”-inisiatief van Buddy Bench vertel het. Dié inisiatief behels dat ʼn bankie op ʼn skoolterrein opgerig word waar kinders wat alleen, hartseer of eensaam is, kan gaan sit met die idee dat ander leerders weet dat hulle vertroosting of ʼn skouer benodig.

“Die missie van die veldtog het vir ons so in lyn met Lumé se eienskappe geklink,” vertel sy. “Ons het toe besluit om borge betrokke te kry en die bankie op te rig. Nou kan dié bankie wees wat Lumé vir so baie van die kinders was: As hulle ʼn maatjie of geselskap nodig het, kan hulle net daar gaan sit. En daarmee saam leer ʼn mens jong kinders oor eensaamheid en boeliery en hoe belangrik dit is om vir mekaar om te gee. Ons Lumé is dalk nie meer hier nie, maar haar nalatenskap is wel, en dít kan dalk iets vir iemand beteken.”

Die De Beer-egpaar het onlangs saam met die sanger Ruan Josh, seun van Juanita du Plessis (De Beer se niggie), ʼn gedig aan Lumé opgedra. Hier is ʼn uittreksel uit die gedig:

Warrelmens, my sonskyn-kind
Ligdraer van God
Duif in die wind
ʼn Warrel deur en in ons harte
ʼn Straal, verwyder van smarte
ʼn Willewragtig van lus
ʼn Vuur wat mens nie kon blus

Hierdie wêreld nie te verstaan
Die werklikheid dat als vergaan
Gejaag na wind, kon tyd ons nie bind.
Ons skatte nou by jou, my kind
Ons sal jou mis engel-kind
In elke eggo sal ons jou vind

Die egpaar beoog om die Buddy Bench-veldtog nou ook na ander Namibiese skole uit te brei. Vir meer inligting oor die gesin, die veldtog of om die volle gedig te lees, besoek die gesin se Legacy of Love-webwerf.

Die De Beer-gesin by Lumé se begrafnis (Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

20 Kommentare

jongste oudste gewildste
chris

Kon nie die trane keer nie hoe hartseer is dit nie.
Ek dink die buddy bench is n wonderlike idee .

Sam

Ek huil hier waar ek sit, dis baie mooi. Sterkte aan die familie.

AmY

Meeste mense sal in hulle hele leeftyd nie so baie mense se lewens aanraak as wat hierdie pragtige kind in haar kort leeftyd gedoen het nie.

Fanus Jacobs

Eerstens wil ek graag my medelye aan die de Beer familie getuig, die hartseer en verlange na jul kind moet ondraaglik wees. Die verhaal van jul dogter is amper woord vir woord dieselfde as myne. Ek het ook grieperig geword maar aangegaan met die daaglikse goed, op die ou einde ook binne 48 uur in die hospitaal beland en die dokters het impliseer dat ek nie die nag sal oorleef. Varkgriep het totale longversaking veroorsaak. Die dokters het alles binne die vermoë van die mediese wetenskap gedoen en erken dat dit net die genade van God is wat my kon… Lees meer »

Meraai

Trane loop hier waar ek sit by die werk! Gee nie om wat n klient sou dink as hy nou hier in stap in my kantoor………….My hart is seer vir Mamma en Pappa en Familie,sterkte voorentoe julle is in ons gebede.