Egpaar van 78 jaar sterf twee dae uitmekaar

Gilbert en Evelyn Drake. (Foto: Applebee Funeral Home)

Gilbert en Evelyn Drake. (Foto: Applebee Funeral Home)

ʼn Egpaar van New York in die VSA wat vir 78 jaar getroud was, het twee dae uitmekaar gesterf.

Volgens familielede is die man en sy vrou ook twee jaar en twee dae uitmekaar gebore.

CBS News berig Evelyn Bennett Drake (98) is op 20 Julie oorlede, twee dae voor haar man, Gilbert Orzell Drake (100). Die egpaar se gesamentlike doodsberig het dié nuus bevestig.

Luidens die doodsberig het albei “vreedsaam” aan natuurlike oorsake gesterf, met hul families aan hul sy. Die twee het in Delmar, ʼn voorstad in Albany in New York, gewoon. Hulle sou onderskeidelik hul 99ste en 101ste verjaardae in Augustus gevier het.

Elizabeth Officer, die Drake-egpaar se kleindogter, het aan die Associated Press gesê die egpaar is op 13 Oktober 1939 getroud.

Evelyn het ʼn kleuterskool in hul huis bedryf terwyl Gilbert, ʼn veteraan van die Tweede Wêreldoorlog, ʼn lugversorgingsmaatskappy besit het.

“Dit is die mooiste liefdesverhaal. Die hemel het twee engele bygekry,” lui die doodsberig.

“Evelyn en Gilbert het die tye wat hulle saam met hul familie in die swembad deurgebring het, die kleinkinders se skoolgeleenthede en gesinsvakansies gekoester. Wanneer hulle nie saam met hul gesin was nie, het hulle ʼn liefde gedeel vir oorsese reise en hulle het graag brug gespeel.”

Die egpaar word oorleef deur twee seuns, ʼn dogter, vyf kleinkinders en twee agterkleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

IK ·

Hulle het werklik EEN geword en ’tot die dood ons skei’ maar in hul geval nie lank.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.