Eienaar van brandende veerboot in hegtenis geneem

Só lyk die uitgebrande veerboot in Bangladesj. (Foto: AFP)

Die eienaar van die oorvol veerboot wat Vrydag in Bangladesj aan die brand geslaan het, is Maandag in hegtenis geneem.

Die eienaar, Hum Jalal Sheikh, is in hegtenis geneem ’n dag nadat ’n hof ’n lasbrief vir inhegtenisneming van agt mense, onder wie die kaptein en bemanning van die veerboot, uitgereik het.

Die inhegtenisneming volg nadat bevind is dat veiligheidsvereistes verontagsaam is. Mahbubur Rahman, mariene polisiebeampte, het gesê die vaartuig was nie met voldoende brandblussers en reddingsboeie toegerus om ʼn voorval van hierdie omvang te hanteer nie.

Maroela Media het vroeër berig die tragedie het hom net na middernag op ʼn rivier sowat 250 km suid van Dhaka afgespeel toe ’n brand vermoedelik in die enjinkamer ontstaan ​​en na die res van die veerboot versprei het.

Die brand het ure lank gewoed voordat dit eindelik geblus is. Minstens 39 mense is dood.

Die veerboot is ontwerp om 420 passasiers te akkommodeer, maar het ten tyde van die brand tussen 500 en 700 passasiers vervoer.

Die meeste van die slagoffers het doodgebrand terwyl ander in ysige water verdrink het terwyl hulle probeer ontsnap het.

Rahman het aan plaaslike media gesê dat volgens oorlewendes het die bestuurder van die veerboot die vaartuig vir byna ’n uur aan die beweeg gehou nadat sy enjinkamer aan die brand geslaan het.

“As hulle die veerboot onmiddellik gestop en geanker het, kon hierdie tragedie voorkom gewees het,” sê Rahman.

Kenners in Bangladesj blameer swak instandhouding, lakse veiligheidstandaarde by skeepswerwe en oorbevolking vir die Suid-Asiatiese land se gereelde maritieme rampe.

Boonop is minstens 21 mense in Augustus dood toe ’n boot vol passasiers teen ’n vragskip wat sand vervoer het, gebots het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.