Eiffeltoring gesluit te midde van betogings

Die Eiffeltoring sal op 8 Desember 2018 gesluit word te midde van betogings in Parys, Frankryk (Foto: AP Photo/Christophe Ena, file)

Die Eiffeltoring en die Louvre-museum in Parys, Frankryk, sal Saterdag gesluit wees terwyl Franse owerhede veiligheid verskerp om nóg geweld te verhoed ná drie weke se betogings teen die regering.

Talle handelaars het gesê hulle sal ook gesluit bly uit vrees dat hulle geteiken kan word te midde van onrus tussen betogers en die polisie. Die polisie in Parys het, buiten 8 000 beamptes wat in die hoofstad ontplooi sal word, ook 14 hoërisikosektore geïdentifiseer wat ontruim sal word.

Alle glasbottels, handreëlings en masjiene in die betrokke gebiede, insluitend die welbekende Champs-Elysées sal ook verwyder word uit vrees dat die betogers straatmeubels en materiaal by konstruksiepersele sal gebruik as wapens.

“Volgens inligting wat ons het sal radikale en rebelle persone môre probeer mobiliseer,” het Christophe Castaner, minister van binnelandse sake, Vrydag tydens ʼn perskonferensie gesê. “Daar is persone wat uiters gewelddadig is wat ook wil deelneem.”

Betogers naby die Arc de Triomphe (1 Desember 2018) (AP Photo/Thibault Camus, File)

Talle winkeliers in Parys het gereedgemaak vir geweld en houtborde opgerig om hul ruite te beskerm. Die Nicolas-wynketting, een van die grootste handelaars in die land, het alle wynproesessies wat vir Saterdag geskeduleer is, gekanselleer. “Dis baie jammer dat ons stad gedeeltelik tot stilstand sal kom, maar veiligheid is ons prioriteit,” het Anne Hidalgo, burgemeester van Parys, gesê. “Beskerm Parys Saterdag, want Parys behoort aan alle Franse persone.”

Ongeveer 89 000 polisiebeamptes sal Saterdag oor die land heen ontplooi word. Die polisie het verlede naweek 65 000 beamptes ontplooi toe meer as 130 persone beseer is en meer as 400 in hegtenis geneem is tydens die ergste straatgeweld wat Parys in dekades beleef het. Owerhede het ook ses Franse Liga-sokkerwedstryde gekanselleer.

Die betogings het op 17 November begin in reaksie op verhogings in dieselbelasting. Vier persone is intussen dood.

Die groep betogers staan bekend as die “geelbaadjie”-beweging, met verwysing na die veiligheidsbaadjies wat Franse motoriste in hul voertuie hou.

Sommige van die betogers, beamptes van die regering en prominente politici oor die politieke spektrum heen het stabiliteit bepleit, veral aangesien Franse president Emmanuel Macron ingestem het om die brandstofverhoging te laat vaar wat tot die betogings aanleiding gegee het. Die betogers se eise het egter nou ook uitgebrei na ander kwessies wat Franse werkers, afgetredenes en studente raak.

Die betogings het ook ʼn ekonomiese impak gehad op die Kersfees-inkopieseisoen. Betogers het verlede naweek klippe deur winkelvensters gegooi en waardevolle items geplunder in van die stad se rykste buurte. Die nasionale federasie van Franse markte het gesê Kersfeesmarkte is hierdeur geraak en sy lede het reeds “ʼn gemiddelde afname in hul verwagte syfers van tussen 30% en 40% aangemeld”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leon ·

Sowaar een land waar betogings net so erg (dalk erger) soos by ons is.

Nanna ·

.. Gebreekte vensters, plundelaars, petrol bomme
Sal as Suid Afrikaner sommer baie vinnig baie tuis
Daar voel ?

Rupert Ashford ·

Dit is wat gebeur as “goeie idees” geimplementeer word en die gewone man ook aan sy sak geraak word. Dis lekker solank ander mense moet betaal vir politieke hersenskimme. En hulle rumoer nog nie eers oor voedselskaarste nie. Ergste kom nog oor die volgende paar jaar.

Werner ·

Wêreldwyd is stede n gemors. Platteland is net soveel beter.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.