Eiffeltoring weer oop, maar sonder ʼn hysbak

Eiffeltoring (Argieffoto) (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Toeriste kan weer die Eiffeltoring in Parys, Frankryk besoek, as hulle bereid is om honderde trappe op ʼn somersdag aan te durf, ouer is as 11 jaar oud en ʼn verpligte gesigmasker dra.

Hysbakke in die toring, wat verlede jaar deur meer as 6 miljoen toeriste besoek is maar in die middel van Maart gesluit is weens Covid-19, sal eers vanaf 1 Julie in werking tree.

Besoekers sal intussen steeds die 674 trappe kan klim tot die tweede verdieping, 115 meter bo die grond.

Beamptes het foto’s van die eerste besoekers op Twitter gedeel met die aanmoediging dat dit slegs 10 minute duur om elke verdieping te klim.

Frankryk het sedert 11 Mei reeds geleidelik sy afsonderingsregulasies begin ophef. Kafees en restaurante is nou reg oor die land oop en fliekteaters het Maandag oopgemaak. Die Louvre-museum, wat in 2019 meer as 9 miljoen besoekers gehad het, maak op 6 Julie sy deure oop.

Grensbeperkings met EU-state is op 15 Junie opgehef, maar bly in plek vir nie-EU-state.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Dana

O gits nee 674 trappe. Het dit nie eens in my jong dae aangedurf nie en het hysbak opgeneem.