Eiland kry eerste Covid-19-geval

(Foto: pixabay)

Amerikaans‑Samoa, ʼn eiland digby Australië en Nieu-Seeland, het Vrydag sy eerste Covid-19-geval aangemeld. Dié Amerikaanse grondgebied het in die amper twee jaar sedert die pandemie uitgebreek het, nog nie één positiewe geval aangemeld nie.

Die eiland se departement van gesondheid het Vrydag in ʼn verklaring gesê die positiewe Covid-19-geval is onder 43 reisigers geïdentifiseer wat in die Sea-hotel in die dorp Utulei in kwarantyn is. Dié reisiger, ʼn inwoner van die eiland, het glo van Hawaii af teruggekeer.

Die persoon, wie se identiteit onbekend is, het negatief getoets voor die vlug Maandag en is ook ten volle ingeënt. Dié het teen Vrydag nog geen Covid-19‑simptome getoon nie.

Meer as 200 reisigers, wat ook in kwarantyn in die hotel is, is vir Covid-19 getoets, maar geen verdere gevalle is aangemeld nie.

Amerikaans‑Samoa vereis dat alle reisigers vir 10 dae in kwarantyn moet gaan en ten volle ingeënt moet wees voordat hulle die land mag binnekom.

“Hierdie positiewe geval beklemtoon die belangrikheid daarvan om streng protokolle te volg om die verspreiding van Covid-19 hok te slaan,” het die land se departement van veiligheid gesê.

Owerhede het gesê die land sal steeds ʼn statusblou geniet, wat beteken dat mense se lewens minimaal ontwrig word deur voorkomingsmaatreëls soos afsonderingsregulasies.

Amerikaans‑Samoa het verlede jaar positiewe Covid-19-gevalle op ʼn vragskip in een van sy hawes geïdentifiseer. Die bemanning het egter nooit die skip verlaat nie en owerhede het die infeksies nie in hul amptelike Covid-19-telling opgeneem nie, berig The Associated Press.

Die gebied is sedert Maart verlede jaar, toe die pandemie in alle erns begin versprei het, vir alle buitelanders gesluit.

Die eiland het wel Maandag, op die einste vlug waarop die positiewe geval was, vir die eerste keer vlugte van Honolulu na Pago Pago hervat. Dit sou twee keer per maand plaasvind.

Alle vlugte na en van die eiland is egter nou tot verdere kennisgewing opgeskort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.