Einde van bekende, geliefde gorilla

Koko die gorilla. (Foto: Twitter)

Koko die gorilla. (Foto: Twitter)

Koko, die gorilla, wat mense reg oor die wêreld se verbeelding aangegryp het met haar vermoë om in gebaretaal te kommunikeer, is Woensdag dood.

Dié westelike laaglandgorilla was 46 jaar oud. Koko is op 4 Julie 1971 in die San Francisco-dieretuin gebore en is Hanabi-ko (ʼn Japannese woord vir ‘vuurwerkkind’) gedoop.

Koko het die onderwerp van boeke, televisiereekse en mediaberigte geword nadat sy meer as 1 000 woorde in gebaretaal geleer is deur dr. Francine Patterson, ʼn dieresielkundige.

Die Gorilla-stigting het aangekondig dat Koko Woensdagoggend in haar slaap dood is, berig Citizen. “Koko het die lewens van miljoene aangeraak as ʼn ambassadeur vir alle gorillas en was ʼn ikoon vir interspesie-kommunikasie en empatie. Sy was geliefd en sal diep gemis word,” het die stigting gesê.

'n Onlangse foto van Koko en dr. Francine "Penny" Patterson. (Foto: Facebook)

‘n Onlangse foto van Koko en dr. Francine “Penny” Patterson. (Foto: Facebook)

Patterson het die jaar nadat Koko gebore is vir haar gebaretaal begin leer. Sy het, in samewerking met Ronald Cohn, vir Koko in 1974 na Stanford laat oorplaas en die Gorilla-stigting op die been gebring.

Koko het in verskeie dokumentêre reekse en twee keer op die voorblad van National Geographic verskyn. Haar eerste voorbladfoto, wat in 1978 verskyn het, was een wat Koko van haarself in ʼn spieël geneem het.

In 1985 het dié tydskrif oor Koko en haar troeteldier, ʼn katjie met die naam All Ball, berig. All Ball was ʼn grys en wit stertlose katjie wat vir Koko gegee is op haar verjaardag in 1984. Hul verhouding het die onderwerp van die boek Koko’s Kitten geword, wat later in skole se biblioteke opgeneem is.

Ander katte het ná All Ball se dood gevolg, maar volgens navorsers het Koko jare later steeds oor haar eerste katjie se dood getreur. Haar gunsteling-leesboek was glo Three Little Kittens.

Koko was mal oor katte. (Foto: Facebook)

Koko was mal oor katte. (Foto: Facebook)

In 1996 het Koko aangedui dat sy ʼn ma wil word. Ten spyte van haar opsigters se pogings om haar aan hubare mannetjies voor te stel, het Koko nooit ʼn ma geword nie.

“Sy het diep impak gemaak en wat sy ons geleer het oor die emosionele kapasiteit van gorillas en hul kognitiewe vermoë sal voortgaan om die wêreld die help vorm,” het die Gorilla-stigting Donderdag gesê.

Koko was ʼn ster wat saam met bekendes soos William Shatner, Sting, Leonardo DiCaprio, Robin Williams en Mr. Rogers opgetree het. Op die landgoed waar sy tuisgegaan het, is sy soos ʼn koningin behandel, en het sy met Williams se leesbrille rondgehardloop en Rogers se bekende trui losgemaak.

Koko se merkwaardige gebaretaalvermoë en moederlike instink met troeteldierkatte het gehelp om die wêreld se siening te verander oor die intelligensie van diere en hul vermoë om empatie te hê.

Kyk hier na ‘n skattige video van Koko en haar katte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eileen ·

Rus sag Koko – jammerte dat jy nie jou lewe in die natuur (waar jy hoort) kon uitleef nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.