Einstein se aantekeninge vir miljoene opgeveil

Albert Einstein se handgeskrewe notas oor die relatiwiteitsteorie is Dinsdag in Parys, Frankryk, vir €11,6 miljoen (R207 miljoen) opgeveil (Foto: Alain Jocard, AFP)

Albert Einstein se handgeskrewe notas oor die relatiwiteitsteorie is Dinsdag in Parys, Frankryk, vir €11,6 miljoen (R207 miljoen) opgeveil.

Die veiling het alle verwagtinge oortref aangesien die manuskrip aanvanklik vir tussen €2 miljoen en €3 miljoen (tussen R35 miljoen en R54 miljoen) gewaardeer is. Dit is ook die hoogste bedrag wat ooit vir werke van dié geniale wetenskaplike betaal is.

Die veiling is Dinsdag op €1,5 miljoen geopen en het vinnig verby die afslaers se skatting gegaan. Die meeste bieërs het van ʼn afstand aan die veiling deelgeneem.

Einstein se sogenaamde “God letter” is in 2018 vir $2,8 miljoen (R44,4 miljoen) opgeveil en sy teorie vir geluk is in 2017 vir $1,56 miljoen (R25 miljoen) verkoop.

Die manuskrip bevat voorbereidingswerk van Einstein se teorie van algemene relatiwiteit wat hy in 1915 gepubliseer het. Dié teorie bou voort op Einstein se teorie van spesiale relatiwiteit van 1905, wat die bekende vergelyking E = mc² weergee.

Einstein se relatiwiteitsteorieë het ’n rewolusie in sy veld teweeggebring, deur nuwe maniere bekend te stel om na die beweging van voorwerpe in ruimte en tyd te kyk.

Die manuskrip van 54 bladsye is in 1913 en 1914 in Zürich, Switserland, deur Einstein en die Switserse ingenieur Michele Besso met die hand geskryf. Dit is na bewering te danke aan Besso dat die manuskrip vir die nageslag behoue gebly het.

Volgens Christie’s – wat die veiling namens die Franse afslaer Aguttes behartig het – is dit ’n wonderwerk dat dié manuskrip opgeveil kon word. Dit is onwaarskynlik dat Einstein dit self sou bewaar het, aangesien hy dit as ’n eenvoudige werksdokument beskou het.

“Wetenskaplike dokumente van Einstein in hierdie tydperk, en voor 1919 oor die algemeen, is uiters skaars,” het Christie’s gesê.

“Omdat dit een van slegs twee werkende manuskripte is wat die ontstaan ​​van die algemene relatiwiteitsteorie dokumenteer, is dit ’n buitengewone getuienis van Einstein se werk.”

Einstein het ook ʼn groot bydrae tot die kwantummeganika-teorie gelewer en die Nobelprys vir fisika in 1921 gewen.

Einstein is in 1955 op die ouderdom van 76 oorlede. Hy word as een van die grootste teoretiese fisici van alle tye beskou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

E ·

Ek lag net, want die persoon wat dit betaal het vir die dokument, gaan dit tien teen een nie eers lees of enige iets in dit verstaan nie. Min mense kan iemand soos Einstein verstaan.

Hardekwas ·

Lees gerus ” The road to reality. A complete guide to the laws of the universe”, deur Roger Penrose. Dit mag dalk n effe insig in Einstein se denke gee.

Frank ·

Man, as ek so na daai papier kyk was die man redelik goed in wiskunde?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.