Ekonomiese gevolge van konflik ál wyer gevoel

(Foto: Aris Messinis/AFP)

Die Internasionale Monetêre Fonds en die Wêreldbank waarsku teen uitgebreide ekonomiese gevolge, wat verbruikers wêreldwyd gaan voel weens die voortslepende konflik tussen Rusland en Oekraïne.

Dié top- wêreldwye leners het ook hul afgryse oor die “verwoestende menslike katastrofe” tot dusver uitgespreek.

Verskeie Europese banke het Vrydag saam met die Internasionale Monetêre Fonds en Wêreldbank vergader om die wêreldwye trefslag van die gevegte te bespreek – en hul persoonlike en gesamentlike reaksies op die toenemende krisis uit te spreek.

“Die hele wêreldekonomie sal die uitwerking van die krisis voel deur hoër inflasiekoerse, stadiger beleggingsgroei en internasionale handelsontwrigtinge,” lui ʼn gesamentlike verklaring.

Die leners waarsku dat die konflik energie- en voedselvoorrade kan ontwrig wat armoede wêreldwyd kan vererger.

“Ons is met afgryse vervul en diep bekommerd oor die Russiese inval in Oekraïne en die wêreldwye ingreep wat dit tot gevolg het.”

Byna onophoudelike aanvalle op Oekraïense burgers en hul infrastruktuur het volgens die banke “geweldige lyding veroorsaak, massiewe bevolkingsverplasings geskep, internasionale vrede en veiligheid bedreig en basiese maatskaplike en ekonomiese behoeftes vir mense oor die hele wêreld in gedrang gebring.”

Duisende mense, onder wie Oekraïense burgers en soldate van albei kante, het reeds hul lewe weens die gevegte verloor.

Die VN voer ook aan dat die vlugtelinge wat nou uit Oekraïne vlug meer getraumatiseer is as diegene wat vroeër die konflik kon ontsnap.

Tog werk talle organisasies wêreldwyd byna onophoudelik om die een ná die ander vlugteling uit Oekraïne te kry. Selfs Suid-Afrikaners bied kos en slaapplek aan vir diegene wat in sak en as in Oekraïne is.

“Benewens die verwoestende menslike ramp wat hom in Oekraïne ontvou, ontwrig die oorlog ook die lewensbestaan van mense wêreldwyd,” het die banke afgesluit.

Verbruikers gaan internasionaal gebuk onder stygende brandstofpryse en kenners waarsku dat die hoër brandstofpryse ook hoër pryse vir kos en ander broodnodige behoeftes tot gevolg sal hê.

Ondanks die druk waaronder die wêreld tans verkeer, het talle Suid-Afrikaners oudergewoonte nie hul sin vir humor oor die petrolpenarie verloor nie.

Honderde grappe en memes (spotprentjies) word steeds daagliks rondgestuur oor die duur prys van petrol en diesel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.