El Niño rede vir stygende temperatuur wêreldwyd

El Niño, wat in Junie ontstaan het, was tussen November en Januarie op sy sterkste. (Foto: LUIS TATO / AFP)

Nuwe data wat deur die Verenigde Nasies (VN) se Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) opgeteken is, maan dat die El Niño-weerfenomeen wat in Desember ʼn hoogtepunt bereik het, een van die vyf sterkste weerverskynsels nóg was.

Hoewel die weerverskynsel stadigaan verswak, gaan die uitwerking daarvan steeds oor die volgende maande gevoel word.

In ʼn kwartaallikse verslag wat die WMO Dinsdag bekend gestel het, word bogemiddelde temperature omtrent wêreldwyd tussen Maart en Mei verwag.

El Niño, ʼn weerstelsel wat ontstaan weens die grootskaalse verhitting van oppervlaktemperature in die sentrale en oostelike Stille Oseaan, het gewoonlik die grootste uitwerking op die globale klimaat in die jaar nadat dit ontwikkel – in hierdie geval 2024.

Dit word gewoonlik verbind met warmer weer wêreldwyd, droogte in sommige wêrelddele en swaar reën elders. Die weerverskynsel kom gemiddeld elke twee tot sewe jaar voor en kan tussen nege en 12 maande lank duur.

Die WMO sê daar is ʼn 60%-kans dat El Niño tussen Maart en Mei gaan voortduur, en ʼn 80%-kans op neutrale toestande tussen April en Junie. Daar is ook ʼn kans dat ʼn La Niña-verskynsel later vanjaar kan ontwikkel, maar hoe groot dié kans is, is nog onduidelik.

Celeste Saulo, hoof van die WMO, is van mening dat die styging in temperatuur deur El Niño vererger is, maar dat dit ook binne die groter konteks van menslike optrede gesien moet word.

Konsentrasies van die drie grootste kweekhuisgasse – koolstofdioksied, metaan en stikstofoksied – kry hoofsaaklik die skuld. Saulo sê verlede jaar was verreweg die warmste jaar nóg. Dit is ʼn kommerwekkende verskynsel, maar kan ook nie nét deur die El Niño-verskynsel verklaar word nie.

Dié lande kwaai geraak

El Niño, wat in Junie ontstaan het, was tussen November en Januarie op sy sterkste.

Dit het ʼn hoogtepunt van ongeveer 2 °C bo die gemiddelde see-oppervlaktemperatuur van 1991 tot 2020 vir die tropiese oostelike en sentrale Stille Oseaan bereik.

Die El Niño-verskynsel word tipies verbind met verhoogde reënval in dele van suidelike Suid-Amerika, die suide van die VSA, die Somaliese Skiereiland en Sentraal-Asië.

Dit kan ook erge droogtes oor Australië, Indonesië, dele van suidelike Asië, Sentraal-Amerika en noorde van Suid-Amerika veroorsaak.

Tussen 2020 en vroeg verlede jaar is die wêreld geraak deur ʼn buitengewoon uitgerekte La Niña, wat vir drie jaar geduur het. Die koeler uitwerking het egter nie gekeer dat die nege warmste individuele jare op rekord almal vanaf 2015 aangeteken is nie.

Die WMO het gepleit vir die ingrypende vermindering van kweekhuisgasvrystellings om klimaatsverandering te bekamp.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Sê maar net ·

Mmmmmm. Stem nie saam nie. Daar is baie groter dinge aan die gebeur in die hemele. Doen gerus navorsing. Each to her/ his own.

Daniel ·

Dit is waar, baie warm en droog in Pretoria, voel soos middel van die somer terwyl dit eintlik al herfs is. Ons het nie eens die geelperske reën gehad

Theresa ·

Ja hier in Krugersdorp ook, ongekende hitte en dit hou net aan!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.