Elf dood, talle vermis in Siberiese mynongeluk

Reddingswerkers kom by die Listvyazhnaya-steenkoolmyn naby die dorp Gramoteino, in Siberië, aan. Minstens 11 mense is reeds dood in die jongste mynongeluk in die land. (Foto: AFP)

Minstens elf mense is dood en etlike ander word steeds ondergronds vermis ná ʼn ongeluk Donderdag by ʼn Russiese steenkoolmyn in Siberië.

Daar was 285 mense by die Listvyazhnaya-myn in die Kemerovo-streek naby die dorp Belovo, toe die ongeluk gebeur het. Dít terwyl daar nog geen amptelike verklaring uitgereik is oor die oorsaak van die ongeluk by dieselfde myn waar ʼn metaanontploffing in 2004 die lewe van 13 mense geëis het nie.

Sergei Tsivilev, goewerneur van die streek, het in ʼn verklaring op die plaaslike regering se webwerf gesê minstens 11 mense is reeds dood en nog 46 is steeds ondergronds. Daar was tot dusver geen kommunikasie met hulle nie.

“Daar is geen swaar rook nie, so ons hoop daar is nie ʼn brand nie,” sê Tsivilev, terwyl hy terselfdertyd bevestig het dat die myn se ventilasiestelsel steeds werk.

Ander mynwerkers is reeds na die oppervlak gebring en 43 mense word in hospitale behandel. Sommige van hulle se toestand is bedenklik.

Die woordvoerder van die Kremlin, Dmitry Peskov, het aan verslaggewers gesê pres. Wladimir Poetin “het sy diepste medelye” met die families van die slagoffers betuig.

Plaaslike ondersoekers sê rook het omstreeks 03:35 vanoggend [SA tyd] oor die myn begin hang en gegrond op voorlopige inligting het ʼn hele aantal werkers rookvergiftiging opgedoen.

Russiese staatstelevisie het beeldmateriaal gewys van reddingswerkers en ondersoekers wat in die sneeu en in temperature onder vriespunt werskaf.

Die waarnemende hoof van die departement van noodgevalle, Alexander Chupriyan, is reeds op pad na Kemerovo.

Die Listvyazhnaya-myn is in 1956 geopen en word besit deur die maatskappy SDS-Ugol. Benewens die ontploffing in 2004, het nog ʼn ontploffing by die myn in 1981 ook die lewe van vyf werkers geëis.

Lakse veiligheidstandaarde

Die myn in Siberië waar die ongeluk vroegoggend plaasgevind het. Minstens 11 mense is reeds dood. (Foto: AFP)

Mynongelukke in Rusland en die voormalige Sowjetunie is betreklik algemeen, hoofsaaklik weens swak veiligheidstandaarde, ʼn gebrek aan oorsig oor werksomstandighede en verouderde Sowjet-era-toerusting.

In een van die ergste onlangse voorvalle het die bars van ʼn onwettige dam by ʼn goudmyn in Siberië in 2019 tot 17 sterftes gelei.

Dieselfde maand is nog drie mense by ʼn myn in die Noordpoolstreek dood. Die myn behoort aan die Norilsk Nickel-groep, die wêreld se grootste produsent van nikkel en diamante.

In Augustus 2017 het agt mense vermis geraak nadat vloedwater deur ʼn Siberiese diamantmyn, wat bedryf word deur die Russiese maatskappy Alrosa, gestroom het. Alrosa is een van die wêreld se voorste produsente van ongeslypte diamante. Ná drie weke is die reddingsoperasie opgeskort.

Die dodelikste mynongeluk was egter by die Raspadskaya-myn in Siberië – dit is Rusland se grootste steenkoolmyn – toe 91 mense in 2010 dood en meer as 100 beseer is.

Die ongeluk is veroorsaak deur ʼn kragtige metaanontploffing terwyl 300 mynwerkers in die myn was. ʼn Tweede ontploffing het boonop ʼn groep reddingswerkers vasgekeer.

Benewens die dodelike ongelukke, werp nieregeringsorganisasies ook al hoe meer lig op omgewingspraktyke in Rusland, een van die wêreld se grootste goudprodusente.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jr ·

From a gold miner wie 40 jaar ondergrond was in die diepste myn in SA wie die Hêre deur sy Genade elke dag oppervlak toe gebring het bid ek vir julle my broers. May the Lord be gracious to each one and bring you all home to your families. The most important thing to come out of the mine is not gold, coal or diamonds, BUT THE MINER

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.