Elon Musk dalk hof toe gesleep oor grotredding-twiets

Elon Musk. Foto: AP Photo/Evan Vucci, File

Elon Musk, die Suid-Afrikaans gebore sakemagnaat, kan moontlik regstappe op die lyf loop nadat hy na bewering op Twitter na een van die duikers wat betrokke was by die opspraakwekkende Thailand-reddingspoging as ʼn “pedo ou” verwys het.

The Guardian berig Vernon Unsworth, ʼn Britse duiker, het bevestig hy oorweeg regstappe teen Musk oor ʼn reeks beledigende twiets wat hy meen teen hom gemik was. Musk het intussen dié twiets uitgewis.

Die Twitter-bekgeveg het gekom nadat Musk ʼn miniduikboot na die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand se Chiang Rai-provinsie gestuur het waar 12 seuns en hul sokkerafrigter vir langer as twee weke deur vloedwater vasgekeer was. ʼn Reusereddingspoging wat van die wêreld se beste reddingsduikers betrek het, is uitgevoer om die seuns te red. Die laaste seuns is Dinsdagmiddag uit die grot na veiligheid gebring.

Reddingswerkers besig met die reddingsoperasie in die Tham Luang Nang Non-grot in Thailand (30 Junie 2018). Foto: Xinhua

Terwyl die reddingspoging aan die gang was, het Musk ingenieurs van Tesla en SpaceX na Thailand gestuur met ʼn miniduikboot wat hulle ontwerp het. Hy het aangevoer die duikboot sal werk om die seuns uit die grot te red. Die hoof van die reddingsoperasie het egter gesê die duikboot is nie prakties vir die operasie nie.

Unsworth was baie uitgesproke oor Musk se duikboot-voorstel en het daarna verwys as ʼn publisiteitsfoefie. Volgens CNN het Unsworth in die onderhoud gesê “daar is absoluut geen kans” dat die duikboot kan werk nie en dat Musk geen begrip het van hoe dit in die grot lyk en wat die omstandighede van die reddingspoging is nie. Hy het verder gesê Musk “moet sy duikboot druk waar dit seermaak”.

Musk het in reaksie hierop in ʼn reeks twiets gesê hy sal ʼn video voorsien wat bewys dat die duikboot wel gebruik sou kon word om die kinders te bereik. Volgens The Guardian het hy in ʼn twiet wat op Unsworth gemik was gesê: “Sorry pedo guy, you really did ask for it.” Dié en nog ʼn twiet is later uitgevee.

Unsworth wou nie veel kommentaar lewer oor die stappe wat hy van voorneme is om te doen nie, maar het wel bevestig “die saak is nie verby nie”. Hy het ook gesê hy dink mense kan nou sien “watter soort mens Musk is”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Haan ·

Musk het die jode erg ontsel met sy “ons almal weet wie beheer die media” twiets van so ruk terug. Hulle gaan hierdie gulde geleentheid om hom te wiks nie sommer laat verbygaan nie

Rerig??? ·

Ek ken nie een van die twee nie. Maar was dit regtig nodig om te die ou moet sy duikboot druk waar dit seermaak. Heng hy wou net help. Persoonlik dink ek die een wat vir die ander gese het druk dit………..het die onaangenaamheid begin.

Wors ·

Musk….ien moet hy sy mond met seep gaan skrop! Sy laaste paar twiets is maar regtig Goor en sy mond is glad, geld praat altyd by hom…

IK ·

Nou ‘n gulde geleentheid om die ‘goodies’ in daardie einste grotte te gaan toets.

Aijaja ·

Ai weet jy die mense !!! Musk het al meer vir humankind en die wereld gedoen om ons as mense vorentoe Te vat as enige een van Die mense wat Sy naam probeer sleg Maak .. hy wou die kinders help , en het met n alternatiewe idee opgekom om dit Te kan doen . Maar dis nou presies hoe die wereld Se mense deesdae is , n mens try iets goed doen en hul gooi dit in jou gesig , in Plaas van net DANKIE

JSG ·

Stem saam. Die mini duikboot is omtrent dieselfde grootte as die draagbaar wat wel gebruik is. Hulle was seker bekommerd die duikboot kraak indien dit teen ‘n skerp wand in die grot kap. Elon mag miskien ‘n bietjie voorbarig wees, maar stem beslis saam dat meeste van sy idees nogal van groot nut vir die mensdom is en dit was onnodig om hom so af te kraak. Hulle kon maar slegs op ‘n mooi manier aan Elon verduidelik het hoekom sy idee dalk onprakties is. Meeste mense reageer nie ordentlik op sulke “aanvalle” nie en jy mag dalk ‘n sarkastiese antwoord kry.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.