Elon Musk koop groot aandeel in Twitter

Elon Musk. (Foto: Jim Watson/AFP)

Elon Musk het moontlik Maandag met ʼn plan gewerk toe hy ʼn groot aandeel in die sosialemediaplatform, Twitter, gekoop het.

Dié aankoop het daartoe gelei dat die platform se aandele die hoogte in skiet en kenners bespiegel nou of dié miljardêr ʼn aktiewe rol in die platform se bedrywighede wil speel.

Volgens ʼn dokument wat by die Amerikaanse Securities and Exchange Commission (SEC) ingedien is, het die wêreld se rykste man en uitvoerende hoof van die elektriese voertuigmaatskappy Tesla, byna 73,5 miljoen Twitter-aandele bekom. Hy besit dus nou 9,2% van die maatskappy.

Gegrond op Vrydag se sluitingsprys van die maatskappy se aandeel, beloop Musk se belegging nagenoeg $2,9 miljard (R42 miljard).

Beleggers het vinnig op hierdie nuus gereageer en teen Maandagoggend het Twitter se aandeelprys met 26% gestyg en teen sowat $49 (R715) verhandel.

“Ons verwag dat hierdie passiewe belang net die begin is van breër gesprekke met die Twitter-direksie wat eindelik tot ʼn aktiewe belang en ʼn potensieel meer aggressiewe eienaarskapsrol van Twitter kan lei,” het Daniel Ives en John Katsingris, ontleders van die beleggingsfirma Wedbush, gesê.

Musk is ʼn gereelde Twitter-gebruiker wat dit ook skynbaar geniet om omstrede boodskappe en aankondigings te plaas.

In een van sy jongste plasings het hy Twitter se nakoming van vryheid van spraak bevraagteken en daarop gesinspeel dat hy dalk eerder sy eie platform moet bekendstel.

Musk het verlede maand ʼn peiling op Twitter van stapel gestuur waarop hy gesê het dat vryheid van spraak noodsaaklik is vir ʼn funksionerende demokrasie en gevra het of gebruikers glo dat Twitter aan hierdie beginsels voldoen.

Meer as twee miljoen mense het in die peiling gestem, met meer as 70% wat “nee” gestem het.

“Aangesien Twitter as die de facto– openbare dorpsplein dien en hy versuim om die beginsels van vryheid van spraak na te kom wat fundamenteel is vir demokrasie – wat moet gedoen word?” het Musk die volgende dag ná sy peiling op die platform gevra.

“Is ʼn nuwe platform nodig?”

“Koop Twitter net,” was een van die eerste antwoorde vanaf duisende Twitter-gebruikers.

Dit blyk nou dié stelling was nie so vergesog soos wat die gebruiker sekerlik daarmee bedoel het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

VaalDonkie ·

Die feit dat hy minde as 10% gekoop het, beteken dat hy NIE ‘n aktiewe rol wil speel nie. Dit is ‘n spesifieke regulasie in die VSA dat as jy 10% en meer aandele in ‘n maatskappy koop, jy ‘n aktiewe rol speel. Of ten minste is jou amptelike status so. Die feit dat hy by 9.2% gehou het, beteken hy gaan NIE.

Hendrik ·

Dis dalk al wat beskikbaar was om te koop op daai oomblik. Jy kan nie meer aandele koop as wat daar in omtrek is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.