Elon Musk se Twitter-deur nou wawyd oop

Foto ter illustrasie. (Foto: SCOTT OLSON / Getty Images via AFP)

Elon Musk, die wêreld se rykste man, het Maandag ʼn ooreenkoms aangegaan om Twitter vir $44 miljard (sowat R690 miljard) te koop.

Dit volg sowat twee weke nadat die miljardêr ʼn bod gemaak het om Twitter oor te koop sodat hy alleen in besit van dié sosialemediaplatform kan wees.

Musk het $54,20 per aandeel aangebied, wat dié sosialemediamaatskappy op $43,4 miljard waardeer.

BBC berig Twitter se direksie het aanvanklik Musk se bod van die hand gewys, maar sal nou sy aandeelhouers vra om te stem om die onderhandeling goed te keur.

“Vrye spraak is die grondslag van ʼn werkende demokrasie en Twitter is die digitale dorpsplein waar sake wat noodsaaklik is vir die toekoms van die mensdom gedebatteer word,” het Musk Maandag in ʼn verklaring wat deur Twitter vrygestel is, gesê.

Elon Musk (Foto: Ryan Lash / TED Conferences, LLC / AFP)

“Ek wil ook Twitter beter as ooit maak deur die produk met nuwe kenmerke te verbeter, die algoritmes ʼn oopbron-aanbieding te maak om vertroue te versterk, die spambotte [gemorspos] te verslaan en alle gebruikers te verifieer.

“Twitter het geweldige potensiaal – ek sien uit daarna om saam met die maatskappy en die gemeenskap van gebruikers te werk om dit te ontsluit.”

Jen Psaki, perssekretaris van die Withuis, het in reaksie op die nuus gesê: “Ongeag wie Twitter besit of bestuur, pres. Joe Biden (self ʼn Twitter-gebruiker) is bekommerd oor die krag van groot sosialemediaplatforms.”

Oudpres. Donald Trump – wie se Twitter-rekening verlede jaar permanent opgeskort is – het op sy beurt bekend gemaak dat hy die nuus verwelkom, hoewel hy nie van plan is om weer by die platform aan te sluit nie.

“Ek hoop Elon koop Twitter, want hy sal verbeterings daaraan maak en hy is ʼn goeie man, maar ek gaan op Truth bly,” het hy gesê met verwysing na Truth Social, sy eie nuwe sosialemedianetwerk.

Musk het tans meer as 84 miljoen volgelinge op Twitter.

“Ek hoop dat selfs my ergste kritici op Twitter bly, want dít is wat vrye spraak beteken,” het hy Maandagaand getwiet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cobus ·

Die libbies gaan nie hiervan hou nie, hulle preek mos net toleransie vir alle gemors, maar self spoeg hulle gif as jy nie saam met hulle stem nie. Volgende Facebook en hoofstroom media asb.

De Villiers ·

Welgedaan Elon Musk!

Die linkses het nou nie meer ‘n “safe zone” waar hulle kan maak en breek soos hulle goed dink nie.

Elon Musk se koop van Twitter is ‘n groot oorwinning vir vryheid van spraak!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.