Elon Musk tree uit as voorsitter van Tesla

Elon Musk. Foto: AP Photo/Evan Vucci, File

Elon Musk, die uitvoerende hoof van Tesla, het ingestem om uit te tree as voorsitter van die maatskappy en is bereid om ʼn boete van $20 miljoen (ongeveer R282 miljoen) te betaal.

Dit kom nadat die Securities and Exchange Commission (SEC) in die VSA hom van bedrog aangekla het.

Die SEC voer aan Musk het vir beleggers gelieg toe hy verlede maand in ʼn twiet beweer het hy het finansiering bekom om Tesla te privatiseer. Volgens die kommissie het Musk teenbedrog-voorskrifte in die federale wetgewing oortree aangesien hy nie in werklikheid al finansiering gereed het om die maatskappy te denoteer nie. Die SEC wou gehad het die miljardêr moet verbied word om ooit weer as uitvoerende hoof van enige genoteerde maatskappy te dien.

Musk het die bedrogaanklagte as “ongeregverdigde aksie” bestempel en gesê dit het hom “hartseer en teleurgesteld” gelaat.

Die twee partye het egter oor die naweek ʼn skikkingsooreenkoms bereik waarvolgens Musk binne 45 dae moet uittree as voorsitter vir minstens drie jaar. Hy mag egter aanbly as uitvoerende hoof.

The Washington Post berig Musk moet ook ʼn boete van $20 miljoen betaal, terwyl Tesla nog ʼn boete van $20 miljoen sal betaal. Tesla sal ook twee nuwe onafhanklike direkteure op sy raad aanstel en sal Musk se openbare kommunikasie noukeurig monitor.

Volgens die nuusberig het ʼn mededirekteur van die SEC se handhawingsafdeling gesê die skikkingsooreenkoms is spesifiek ontwerp om “aandag te gee aan wangedrag deur Tesla se korporatiewe bestuur en toesig te versterk om beleggers te beskerm”.

Nie Musk of Tesla het erken dat hulle enigiets verkeerd gedoen het nie. Tesla wou ook nie kommentaar lewer oor die skikkingsooreenkoms nie.

Tesla se aandeleprys het met meer as 14% getuimel nadat die SEC die siviele regsaak aanhangig gemaak het. Musk het vroeër verlede week ʼn aanvanklike skikkingsaanbod van die SEC van die hand gewys en verskeie grootkop prokureurs aangestel om hom in die hof te verteenwoordig. Daar is voorspel dat dit die grootste hofgeding van sy loopbaan sou wees.

Dit is onduidelik hoekom Musk enkele dae later van plan verander en wel ʼn skikkingsooreenkoms onderteken het.

Dit is egter nie die einde van Musk se moeilikheid nie, aangesien die Amerikaanse departement van justisie hul eie ondersoek van stapel gestuur het na Musk se twiet. Intussen is Tesla ook onder finansiële druk aangesien die maatskappy al maande lank gebuk gaan onder produksieprobleme en volgens The Washington Post deur meer as $10 miljard se voortslepende skuld in die gesig gestaar word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Ai, altyd jammer om te aanskou hoe karakterselfdood gepleeg word wanneer die kalklig sy pond vleis eis!

Landi ·

Kom privatiseer al SA se SOE’s, ons land het ambisieeuse mense soos jy dringend nodig!? Hulle het jou nie daar waardeer of verdien nie, want jy sou baie gierigge staats vingers keer en weerhou van n lawwe bonus sou jy Tesla privatiseer, dis maar al. Moet nie jou dryf verloor nie, the sky is the limit.

Hens ·

Bla bla bla. Ek wil net weet wie het so baie geld……(haha)

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.