Emirates-waardin sterf ná val uit vliegtuig

Argieffoto

Die lugwaardin van Emirates Airlines wat Woensdagaand kritieke beserings opgedoen het nadat sy glo van ʼn stilstaande vliegtuig by die Entebbe-lughawe in Uganda gespring het, is dood.

Maroela Media het vroeër berig die vrou, wat intussen as Elena Vassileva (46) geïdentifiseer is, het glo die vliegtuig se nooddeur oopgemaak en self uitgespring terwyl passasiers, wat onderweg was na Dubai, aan boord gegaan het.

Daar is wyd bespiegel dat Vassileva dalk haar eie lewe wou neem aangesien sy volgens passasiers glo voor die voorval in ʼn woordewisseling met haar kollegas betrokke was. ʼn Ander ooggetuie het gesê dat sy na bewering ʼn glasbottel onder haar ken gehou het voordat sy gespring het.

Polisieowerhede in Uganda en dié land se burgerlike lugvaartowerheid het bevestig dat hulle die “verwarrende omstandighede” rakende Vassileva se dood ondersoek.

Volgens African News Agency (ANA) is die vrou glo reeds met haar aankoms by die hospitaal dood verklaar. Emirates Airlines het glo nié haar dood in ʼn verklaring bevestig nie ten spyte daarvan dat die hospitaal die vrou se afsterwe aan die lugredery bevestig het. ANA berig Emirates Airlines het eerder aan die media gesê die vrou “word behandel” en “het van die vliegtuig geval”.

Maurine Nagasha, ʼn woordvoerder vir Emirates Airlines, wou geen verdere inligting gee nie. Sy het wel gesê die lugredery gee sy samewerking aan die polisieowerhede.

ʼn Foto van ʼn ernstig beseerde Vassileva word sedert Woensdagaand wyd op sosiale media versprei. Die omstandighede rakende die voorval bly egter duister en word steeds ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.