Emmy-toekennings 2020: Hier is vanjaar se benoemings

Jennifer Aniston in ‘The Morning Show’. (Foto: IMDb)

Die benoemings van die 72ste jaarlikse Emmy-toekennings is Dinsdag tydens ʼn aanlyn geleentheid deur die akteurs Leslie Jones, Josh Gad, Laverne Cox en Tatiana Maslany aangekondig.

Die Emmy-toekennings is die grootste geleentheid wat televisiereekse vereer.

Die HBO-superheldreeks Watchmen, met Regina King in die hoofrol, is vir 26 toekennings benoem, al is die reeks nie hernu vir ʼn tweede seisoen nie.

Die komediedrama The Marvelous Mrs. Maisel het 20 benoemings gekry, terwyl Ozark en Succession elkeen 18 benoemings ontvang het.

Catherine O’Hara, Eugene Levy, Annie Murphy en Dan Levy in ‘Schitt’s Creek’. (Foto: IMDb)

Netflix het die meeste benoemings, met altesaam 160. Dit is die tweede jaar dat hy sy mededinger HBO, wat 107 benoemings het, klop. Dit is dalk toe te skryf aan die feit dat Game of Thrones, wat verlede jaar met 32 benoemings gespog het, en Fleabag, wat 11 benoemings ontvang het, albei in 2019 tot ʼn einde gekom het.

Die komediereeks Schitt’s Creek, wat onlangs ná ses seisoene geëindig het, het 15 benoemings verower, waaronder beste aktrise in ʼn komediereeks vir Catherine O’Hara, wat die rol van Moira Rose vertolk.

Die akteurs van The Morning Show, een van AppleTV se eerste produksies, het ook verskeie benoemings ontvang. Jennifer Aniston, Steve Carell, Mark Duplass en Billy Crudup is almal benoem, terwyl Reese Witherspoon, wat ook ʼn uitvoerende vervaardiger van die reeks is, nie benoem is nie.

Regina King in ‘Watchmen’. (Foto: IMDb)

The Mandalorian, wat onlangs op die nuwe platform Disney Plus begin draai het, het 15 benoemings ontvang. Modern Family, wat voorheen 22 toekennings uit 80 benoemings gewen het, het slegs drie benoemings ontvang vir sy laaste seisoen wat vroeër vanjaar uitgesaai is.

Die wenners sal op 20 September aangekondig word tydens ʼn seremonie wat deur ABC uitgesaai sal word. Jimmy Kimmel sal die gasheer wees.

Hier is ʼn volledige lys van benoemings.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.