Engeland laat vaar planne vir inentingspaspoorte

Argieffoto (Foto: Tumisu/Pixabay)

Die Verenigde Koninkryk het planne laat vaar om mense in Engeland te dwing om ʼn inentingspaspoort te wys wanneer hulle geleenthede bywoon waar skares bymekaarkom soos nagklubs, het die minister van gesondheid Sondag gesê.

Die regering het vroeër gesê die paspoorte sal teen die einde van die maand ingestel word, ondanks teenkanting van ondernemings in die bedryf en sekere LP’s.

Gesondheidsminister Sajid Javid het die ommekeer aangekondig en gesê die regering beskou nie die skuif as noodsaaklik in die huidige virussituasie nie, gegewe die hoë inentingskoers.

“Ons het behoorlik daarna gekyk en alhoewel ons dit as ʼn reserwe wil hou vir ʼn moontlike opsie, is ek bly om te sê ons gaan nie tans voort met planne vir ʼn inentingspaspoort nie,” het Javid aan die BBC gesê.

Die VK het twee entstofdosisse aan meer as 80% van sy bevolking ouer as 16 toegedien en sal na verwagting binnekort aankondig wanneer hy inentings ook vir diegene tussen 12 en 15 jaar oud beskikbaar gaan maak.

Die gesondheidsminister het gesê die idee van verpligte dokumentasie by ontspanningsgeleenthede het hom ongemaklik laat voel. Sommige teenstanders het gesê dit is ʼn moontlike skending van burgerlike vryhede.

“Ek het nog nooit van die idee gehou dat jy vir mense sê hulle moet vir jou papiere of iets wys om iets te doen wat ʼn alledaagse aktiwiteit is nie,” het Javid bygevoeg.

Die wysiging kom ná entstofminister Nadhim Zahawi verlede week aan die parlement gesê het die plan gaan voort aan die einde van September, wanneer almal ouer as 18 geleentheid gehad het om albei dosisse entstof te ontvang.

Javid het aan Times Radio gesê ʼn groot faktor in die besluit was dat Engeland “ʼn bestendige toename in die getal inentings” gesien het, anders as ander lande wat wel inentingspaspoorte ingestel het. “Mense het gepraat oor sertifikasie as ʼn instrument om inentings te verhoog. Ek is nie seker dat ons dit hoef te doen nie,” het hy gesê.

Skotland het Donderdag inentingspaspoorte goedgekeur vir diegene wat vanaf volgende maand nagklubs of musiekfeeste wil bywoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.