Engeland lê beslag op NVI’s tydens taksbedrog

Argieffoto (Foto: butti_s/Pixabay)

Engeland se belastinginvorderaar het Maandag gesê hy het beslag gelê op drie digitale kunswerk- Nieverwisselbare items (NVI’s) (Engels: non-fungible tokens – NFTs) terwyl hy ondersoek ingestel het na belastingbedrog. Die organisasie het ʼn waarskuwing uitgereik aan mense wat kripto-bates gebruik om geld weg te steek.

NVI’s is ʼn spesiale soort kriptografiese item of bewys wat iets unieks voorstel. Nieverwisselbare items is dus nie onderling uitruilbaar nie. Dit is in teenstelling met kripto-geldeenhede soos bitcoin, en baie netwerk- of hulpbronbewyse wat vervangbaar van aard is. NVI’s is in effek digitale bates met ʼn egtheidsertifikaat. Alhoewel sommige verward sou wees oor die idee dat jy iets aankoop wat oneindig gereproduseer kan word, is daar tans ʼn groot aptyt vir NVI’s in markte wêreldwyd omdat kopers graag wil spog dat hulle oor die gesertifiseerde oorspronklike item beskik.

Maroela Media het vroeër berig oor onder andere ʼn foto, ʼn video en selfs ʼn digitale replika van ʼn renosterhoring wat deur middel van ʼn NVI in Suid-Afrika verkoop is.

NVI’s is ook gewild by afslaers en op die kunsmark waar virtuele werke vir multimiljoen dollar verkoop word.

Brittanje se belastingagentskap, die HMRC, sê hy is die eerste wetstoepasser in die Verenigde Koninkryk wat beslag lê op ʼn NVI.

Die beslaglegging het plaasgevind “tydens ʼn ondersoek oor vermoedelik BTW-terugbetalingsbedrog met 250 vervalste maatskappye”, lui ʼn verklaring.

Drie mense is in hegtenis geneem op aanklag van poging om die HMRC uit £1,4 miljoen (sowat R28,6 miljoen) te bedrieg.

“Ons eerste beslaglegging op ʼn NVI dien as ʼn waarskuwing vir enigiemand wat dink hulle kan kripto-bates gebruik om geld van die HMRC weg te steek,” sê Nick Sharp, die belastingagentskap se adjunkdirekteur vir ekonomiese misdaad. “Ons pas gereeld aan by nuwe tegnologie om seker te maak ons hou tred met hoe misdadigers en belastingontduikers hul bates wil wegsteek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.