Engeland-vulstasies droog ná paniek-aankope

(Argieffoto: pixabay)

Desperate motoriste het Maandag in Brittanje in rye by vulstasies staan en wag. Die regering word versoek om prioriteit-toegang te bied aan gesondheidsorg- en ander noodsaaklike werkers.

Die regering hou vol ʼn gebrek aan bestuurders van die petroltenkwaens om brandstof af te lewer en ʼn ongekende aanvraag na brandstof het tot die krisis gelei, en nie ʼn tekort aan brandstof nie. Die regering het nou ook ʼn ommeswaai gemaak om post-Brexit-immigrasiereëls te verslap om buitelandse vragmotorbestuurders terug te lok.

Motoriste moes egter in lang rye staan en wag vir brandstof.

“Mense is desperaat. As ek nie nou petrol kry nie, kan ek nie môre werk nie,” het een motoris, David Hart, aan AFP gesê by ʼn Esso-vulstasie in Londen. Hy kon oor die naweek nêrens brandstof kry nie.

Brittanje se grootste staatsdiensvakbond Unison het gesê sleutelwerkers, insluitend dokters, verpleegsters, onderwysers en polisiebeamptes moet prioriteit-toegang kry tot brandstof eerder as wat hulle in rye moet staan en wag.

Mediese organisasies het reeds gesê gesondheidsorgpersoneel sukkel om by die werk uit te kom en skole het gewaarsku dat aanlyn leer sal moet hervat as onderwysers nie by die klaskamers kan uitkom nie.

Motoriste wat by vulstasies in Londen, die suidooste van Engeland en omliggende dele opgedaag het, het slegs op pompe afgekom wat toegespan was en kennisgewingborde wat sê, “Jammer, geen brandstof nie”.

Die brandstofhandelaarsvereniging het gesê byna die helfte van die Verenigde Koninkryk se 8 000 brandstofpompe was Sondag droog. “Paniek-aankope” is vir die kwessie blameer.

Kritici blameer egter die regering se versuim om die geskiedkundige tekort van vragmotorbestuurders te takel, insluitend ná Brittanje se uittrede uit die Europese Unie in Januarie en die pandemie, waar talle buitelandse vragmotorbestuurders die land verlaat het.

Die tekort het ook tot leë supermarkrakke gelei met vrese oor die aflewering van speelgoed en kos vir Kersfees.

Olaf Scholz, minister van finansies in Duitsland, verbind die probleme direk met Brexit en lae salarisse in die bedryf. “Ons het baie hard gewerk daaraan om die Britte te oorreed om nie die Unie te verlaat nie.”

Plaaslike koerante berig die weermag is op bystand geplaas om petroltenkwaens te bestuur. Die regering doen ʼn beroep op burgers om kalm te bly en soos normaalweg brandstof aan te skaf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lesly ·

Dis’n polities gemotiveerde ding van die linkse party wat vir die hoof nuuskanaal oortuig het om die tekort aan brandstof storie nuus te maak.

Soos met enige iets anders word brandstof elke nou en dan verskaf volgens’n plan. As almal skielik paniekbevange volmaak, moet die vulstasie wag tot dit weer hulle beurt is om aangevul te word. Daar is beslis nie ‘n tenkwa en drywers vir elke vulstasie beskikbaar nie. Selfde met brood of kruideniersware . Ek woon in Engeland en suig nie die storie uit my duim nie

Dirk Mostert ·

Moes die Britte nie van die tekort weet nie? Dit was reeds ‘n paar dae tevore op Russia Today.

Jan Seerot ·

Ons, die mense van die lande wat waar ons woonagtig is, uitgelewer aan die politici wat die lande bestuur. Om te glo dat hulle die land(e) vir ons beswil bestuuur, is ‘n mite. Om te glo dat hulle hierdie slim mense is wat diep denkers is, is nog ‘n groter dwaling. Daar is altyd verskuilde agendas en dit gaan altyd oor geld en mag.
Dit eerder slegter gaan in die toekoms, as wat dit beter gaan. Duitsland neig nou links. Amerika het groot probleme. Suid-Afrika? Ek kan maar net my hande saamslaan.
Ons hulp lê defnitief nie by die regeerders van die wêreld nie.

Leeuwyfie ·

Nee, Lesly maak sin. Dis regtig nie die eerste keer uit ons geskiedenis dat dit so gebeur nie. Die storie word versprei nog voor dit ‘n storie is. Sodat dit ‘n storie word. Dis wat gebeur het destyds met die bank sisteem van Amerika. Dit was ‘n nasionale bank sisteem. Toe word ‘n storie versprei dat die banke gaan verstek. As gevolg van paniek onttrekkings het die nasionale bank gevou en in privaat bestuur verval. Dit word nou die federale reserwe van Amerika genoem. Die konsep is so mooi opgevat in die fliek “It’s a wonderful life” van 1946. Dit sal nie die eerste keer of die laaste keer wees nie. Wil mense die VK straf vir hul uittrede uit die EU of wil hulle ander lande waarsku om dit nie te probeer nie? Om die storie-verspreiders te vang gaan moeilik wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.