Entstof kan slag slaan in stryd teen malaria

Argieffoto (AP Photo/Karel Prinsloo)

Die wêreld se eerste malaria-entstof is nou ná 30 jaar se navorsing in Malawi bekend gestel en dit sal in die komende weke in Ghana en Kenia aan kinders beskikbaar gestel word.

Dié aankondiging is onlangs deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) tydens ʼn aanlyn-perskonferensie gemaak. Die entstof genaamd RTS,S (Mosquirix) is die eerste entstof teen malaria en 360 000 kinders sal jaarliks vir die volgende drie jaar in dié lande dié middel ontvang. Daarna sal dit na ander lande, waar malaria endemies is, versprei word.

Kinders jonger as vyf jaar is die grootste slagoffers van dié siekte. Volgens die WGO sterf daar elke twee minute ʼn kind aan die siekte, meestal in Afrika.

Kliniese toetse het gewys die entstof is veilig en redelik effektief. Dit gee egter net gedeeltelike beskerming, maar kenners meen dit is beslis die moeite werd en word gesien as ʼn aanvullende stap in die stryd teen malaria.

Dit voorkom drie uit elke tien gevalle van malaria by kinders en vier uit elke tien lewensgevaarlike gevalle. Dit verminder ook die noodsaak vir bloedoortappings.

Dr. Alena Pance van die Wellcome Trust Sanger Institute het gesê dit is belangrik om te onthou dat 40% beskerming in plekke waar malaria endemies is, baie beter is as niks. “Dit is al wat ons ná dekades het.”

Die kinders sal drie dosisse ontvang wanneer hulle tussen vyf en nege maande oud is en die vierde een op twee jaar.

Die entstof help die immuunstelsel om teen die eerste fase van malaria te veg wanneer die Plasmodium falciparum-parasiet die bloedstroom binnekom, deur ʼn muskietbyt, en die lewerselle infekteer.

Die entstof is ontwerp om te help keer dat die parasiet die lewer infekteer, waar dit vermeerder en weer die bloedstroom binnegaan en die simptome begin.

Dr. Tedros Adhanom Ghebreyesus, direkteur-generaal van die WGO, het gesê daar is die afgelope 15 jaar heelwat vordering gemaak in die stryd teen malaria met die gebruik van muskietnette en die spuit van gif in huise, maar die entstof het die potensiaal om tienduisende kinderlewens te red. In Afrika sterf 250 000 kinders jaarliks aan malaria.

Die loodsprogram se vordering sal verder bestudeer word voordat dit na ander lande wat deur malaria geteister word uitgebrei word.

Dr. Felicitas Zawaira, direkteur van gesins- en reproduktiewe gesondheid in Afrika vir die WGO, het gesê dit is ʼn droom wat bewaarheid is vir baie mense. “Die meeste van ons het al iemand aan malaria verloor.”

Die drie lande is gekies omdat hulle hoë malariasyfers het en omdat hulle gevestigde immuniseringsprogramme het. Die entstof is ontwikkel deur GSK en die Malaria Vaccine Initiative PATH.

  • Elsabé Brits is ʼn vryskut-wetenskapjoernalis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Alida ·

Toe DDT gebruik was was die muskiete onder beheer. Maar nou-ja daar moet eers duisende sterftes wees.

Hennie ·

Nou gaan jy ‘n bevolkings ontploffing sien wat weer sy eie moeilikheid maak! Die wêreld beweeg na minder werksgeleenthede en onbeskaafde volke soos dié gaan net verder in armoede gedompel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.