Episodes van gewilde reeks onwettig vrygestel

Orange Is The New Black

ʼn Kuberkraker of “hacker” beweer hy het verskeie episodes van die jongste seisoen van Netflix se gewilde reeks, “Orange Is The New Black” vrygestel.

Die kuberkraker, ook bekend as The Dark Overlord, het vroeg Saterdagoggend op Twitter ʼn skakel gedeel waar 10 episodes van die reeks se vyfde seisoen glo beskikbaar is om afgelaai te word. Die Associated Press kan nie wettig die egtheid van die lêers bevestig nie.

Nuwe episodes van die reeks is geskeduleer om amptelik op 9 Junie vrygestel te word. Onwettige kopieë van die reeks se episodes kan ʼn impak hê op Netflix se gebruikersgetalle en die maatskappy se aandeleprys. ʼn Woordvoerder vir Netflix wou Saterdag nie kommentaar lewer oor die vrystelling van die episodes nie.

Netflix het vroeër gesê ʼn klein diensverskaffer wat met verskeie groot TV-ateljees werk, is deur ʼn kuberkraker aangeval. Die maatskappy, geleë in Los Gatos, Kalifornië, het gesê dit is ʼn “aktiewe situasie” wat deur die FBI en ander owerhede ondersoek word.

The Dark Overlord het geëis dat Netflix ʼn losprys betaal in ruil dat hy nie die episodes vooraf aanlyn versprei nie. Die kuberkraker het Saterdag in ʼn verklaring gesê Netflix het nie reageer op die eis nie.

“Dit hoef nie só te gebeur het nie, Netflix,” het die kuberkraker geskryf. “Julle gaan baie meer verloor as die geld van ons beskeie losprys.”

Die kuberkraker beweer hy het nog reekse van Netflix en ander ateljees, insluitend ABC, National Geographic en Fox gesteel. The Dark Overlord het beloof om ook dié episodes vry te stel, tensy die “beskeie losprysbedrae” betaal word.

Gerugte dat daar ʼn groot hoeveelheid inligting uitgelek het van Hollywood-flieks en televisie-episodes doen al maande lank die ronde. Skermgrepe van die beeldmateriaal en ʼn afskrif van ʼn voorgestelde ooreenkoms om die gesteelde materiaal uit te vee in ruil vir duisende dollar in elektroniese valuta, word ter ondersteuning versprei.

Netflix maak staat op “Orange Is The New Black” om 3,2 miljoen kykers by te voeg tussen April en Junie. Dit is beduidend meer as die maatskappy se gemiddelde groei van 1,8 miljoen intekenare in dieselfde periode die afgelope vyf jaar. Wanneer Netflix se kwartaallikse intekenare nie strook met die bestuur se vooruitsigte nie, val die aandeleprys gewoonlik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Valerie ·

Wie gee regtig om? Die show is die tipiese Hollywoodse feministiese nonsens met agendas om elke draai…en dan word ‘n ware misdaad boonop geromantiseer en verhef. Hou maar verby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.