Epstein is dood weens ‘reeks foute’

William Barr, die VSA se prokureur-generaal, gedurende die onderhoud met AP News. (Foto: Patrick Semansky, AP)

Die Amerikaanse miljardêr en finansierder Jeffrey Epstein (66) se selfmoord in ʼn tronksel op 10 Augustus was die gevolg van ʼn reeks foute wat die tronk dié betrokke nag begaan het.

William Barr, die VSA se prokureur-generaal, het in ʼn onderhoud met AP News erken hy het ook aanvanklik sy vermoede omtrent Epstein se selfmoord in een van Amerika se veiligste tronke gehad. Hy sê egter dat hy sedertdien tot die gevolgtrekking gekom het dat Epstein weens verskeie menslike foute die kans gebied is om homself om die lewe te bring.

Barr se onthulling volg enkele dae nadat twee korrektiewe beamptes, wat ten tyde van Epstein se selfmoord na hom moes omsien, van die vervalsing van tronkrekords aangekla is.

Maroela Media het vroeër berig die 66-jarige Epstein is op 10 Augustus dood aangetref in sy sel in die Metropolitan-gevangenis in New York. Daar is toe bevind dat hy homself gehang het. Talle vrae en bewerings van moord het egter kort daarna opgeduik. Daar is spesifiek gevra hoe dit moontlik kan wees dat Epstein daarin kon slaag om sy eie lewe te neem sonder dat tronkbewaarders dit gesien het.

Dr. Michael Baden, ’n voormalige hoof- mediese ondersoeker vir die Stad New York met sowat 50 jaar se ondervinding in die veld, het verlede maand ’n verdere opskudding veroorsaak toe hy in ’n onderhoud met Fox News gesê het dat bewyse rondom Epstein se dood op moord dui.

Jeffrey Epstein tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Uma Sanghvi, Palm Beach Post,/AP)

Barr voer egter aan dat al die bewyse daarop dui dat Epstein wel homself om die lewe gebring het. Hy het bevestig dat hy self die beeldmateriaal van sekuriteitskameras in die tronk gesien het wat aantoon dat niemand daardie nag die gebied waar Epstein aangehou is, betree het nie.

Epstein, wat skuldig bevind is op aanklag dat hy talle minderjarige meisies etlike jare lank seksueel mishandel het, is onder selfmoordwaarneming geplaas nadat hy op 23 Julie op die vloer van sy sel aangetref is met kneusmerke aan sy nek.

Talle persone wat vertroud is met bedrywighede in die tronk het egter gesê hy is ná ʼn week weer na ʼn hoëveiligheidbehuisingseenheid oorgeplaas waar hy nie deurgaans gemonitor is nie, maar na bewering moes bewaarders elke 30 minute ondersoek instel. Hy was ook veronderstel om ʼn selmaat te hê. Dié is egter kort voor sy dood na ʼn ander tronk oorgeplaas en hy het nooit ʼn nuwe selmaat gekry nie.

Epstein se liggaam is die volgende oggend in sy sel aangetref. Een van die tronkbewaarders het teenoor ʼn toesighouer erken dat die seksoortreder se sel ook nie omstreeks 03:00 óf 05:00 nagegaan is soos hulle veronderstel was om te doen nie.

Tova Noel en Michael Thomas word nou krimineel aangekla aangesien hulle die betrokke aand tydens hul skof geslaap en op die internet doenig was.

“Ek dink dit was belangrik om ʼn selmaat by hom te hê en ons stel ondersoek in hoekom dit nie gedoen is nie. Die stelsels om te verseker dat dit gedoen is, is nie gevolg nie,” het die prokureur-generaal gesê.

Epstein, wat eens vriende met oudpres. Bill Clinton, pres. Donald Trump en prins Andrew was, was ten tyde van sy dood verhoorafwagtend op aanklagte wat dateer van die vroeë 2000 – onder meer dat hy minderjarige meisies betaal het om hom in sy huise in Florida en New York masserings te gee waar hy hulle gemolesteer het.

Volgens Barr duur dié ondersoek voort. Epstein se slagoffers doen nou ʼn beroep op prins Andrew om homself by die Amerikaanse federale speurdiens (FBI) aan te meld. Een van die slagoffers voer aan dat sy destyds deur die prins seksueel misbruik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Gaitsigubib ·

Johan die berig handel oor die bewering van moord, nie dat jy die kommentaar sal lees nie.

Sobymykoolkop ·

Daar is al kort na sy “selfmoord” in die media berig dat die kameras buite werking was.

Bob Jan ·

Engeland kon Julian Asange baie vinnig arresteer vir die VSA, hoekom wag hulle met prins Andrew? Ons weet ook nou hoekom Andrew en Sarah uitmekaar is. Daar was destyds al gerugte.

Daan Erasmus ·

Daar is nie moordenaars nie. Hy het selfmoord gepleeg. Moet NIKS glo wat Fox News sê nie.

JL ·

Daan Erasmus laat ek jou vertel wat ek glo. Ek glo hy was ‘n pedofiel en sy pellie, daai useless prinsie is ook een. Ek glo hy is vermoor, want die moontlikheid het bestaan laat hy sy mond sou oopmaak en dat dit die wereld tot in sy fondamente sou ruk.

Hannetjie ·

Dit gaan hier oor die ‘selfmoord’ van Epstein…nie oor die Britse Koningshuis nie.Oor toesmeerdery …..

Susan ·

Slim vang sy baas… Ou Epstein se gewete het hom behoorlik aangekla en hy het besluit om sy eie lewe te neem. Aldus beter dood as lewenslank in die tronk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.