Epstein se vriend dood aangetref in Parys-tronksel

Jeffrey Epstein (28 Maart 2017) (Foto: New York-seksoortredersregister via AP, File)

Jean-Luc Brunel, ʼn prominente Franse modelagent wat ʼn voormalige nabye vennoot van die Amerikaanse miljardêr Jeffrey Epstein was, is dood aangetref in sy tronksel in Parys, het staatsaanklaers Saterdag gesê.

Epstein is in Julie 2019 in New York in hegtenis geneem op aanklag dat hy minderjarige meisies vir seks uitgehuur het. Hy is die volgende maand dood aangetref in sy tronksel in New York terwyl hy verhoorafwagtend was vir die mishandeling van meisies by sy huis in Palm Beach en op sy privaat Karibiese eiland.

Brunel, in sy mid-70’s, het tereg gestaan op aanklag van die verkragting van minderjariges. Hy is sedert Desember 2020 in aanhouding.

ʼn Bron naby aan die ondersoek het aan AFP gesê hy is deur die loop van Vrydagaand dood aangetref. Staatsaanklaers in Parys het later sy afsterwe bevestig.

Die polisie ondersoek nou die oorsaak van sy afsterwe, het die bron – wat anoniem wil bly – bygevoeg.

Brunel se afsterwe beteken sy saak is nou gesluit, tensy ander verdagtes moontlik in dieselfde saak in die toekoms geïmpliseer word.

Brunel het die aanklagte teen hom ontken. Sy eienaarskap van ʼn woonstel in ʼn vooraanstaande buurt in Parys en bewerings van vroue wat sê dat hulle in Frankryk mishandel is, het Franse aanklaers genoop om hul eie ondersoek van stapel te stuur.

Die ondersoek het op Brunel gefokus. Hy is in Amerikaanse hofdokumente van verkragting beskuldig en dat hy jong meisies vir sy vriend bekom het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.