Epstein se vriendin borgtog van miljoene geweier

Jeffrey Epstein en Ghislaine Mawell saam in 2005 (Foto: BBC)

’n Amerikaanse regter het Ghislaine Maxwell se voorgestelde borgtogpakket van $28,5 miljoen (sowat R415 miljoen) van die hand gewys.

Maxwell, ’n jarelange vriendin van die Amerikaanse miljardêr en finansierder Jeffrey Epstein, is Maandag vir ’n tweede keer in Manhattan in New York borgtog geweier nadat regter Alison Nathan beslis het dat die beskuldigde ’n vlugrisiko inhou.

Maxwell (58) word daarvan beskuldig dat sy betrokke was by Epstein se sekshandel van minderjarige meisies. Sy ontken skuld.

Maxwell en haar man het voorgestel dat sy tot haar huis beperk sou word met elektroniese monitering en 24-uur-bewaking. Nathan het egter beslis dat die pakket nie waarborg dat Maxwell haar toekomstige hofverskynings sal bywoon nie.

Maroela Media het vroeër berig Maxwell is in Julie vanjaar in hegtenis geneem en sal in aanhouding bly tot en met haar verhoor in Julie volgende jaar.

Maxwell kan tot 35 jaar gevangenisstraf opgelê word sou sy skuldig bevind word.

Jeffrey Epstein voor sy dood tydens ‘n hofverskyning. (Foto: Uma Sanghvi, Palm Beach Post,/AP)

Die 66-jarige Epstein is Augustus verlede jaar dood in sy tronksel in ’n gevangenis in Manhattan aangetref nadat hy vermoedelik sy eie lewe geneem het. Hy is ʼn maand tevore in hegtenis geneem op aanklagte dat hy talle minderjarige meisies etlike jare lank seksueel mishandel het.

Maxwell het jare lank saam met Epstein gewoon en het gereeld saam met hom gereis. Sy ontken egter enige betrokkenheid by sy seksmisdrywe of dat sy van Epstein se beweerde seksuele wangedrag geweet het.

Epstein, ʼn welgestelde verskansingsfondsbestuurder wat eens vriende met oudpres. Bill Clinton, pres. Donald Trump en die Britse prins Andrew was, het glo minderjarige meisies betaal om hom by sy huise in Florida en New York masserings te gee waar hy hulle glo gemolesteer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.