Epstein se vriendin vandag in hof oor sekshandel

Jeffrey Epstein en Ghislaine Mawell saam in 2005 (Foto: BBC)

Ghislaine Maxwell, jare lange vriendin van die Amerikaanse miljardêr en finansierder Jeffrey Epstein, sal na verwagting Dinsdag via video in ʼn hof in Manhattan in New York verskyn in verband met haar beweerde betrokkenheid by Epstein se sekshandel van minderjarige meisies.

Maxwell het reeds versoek om op borgtog vrygelaat te word. Aanklaers voer egter aan dat die verdagte ʼn vlugrisiko inhou aangesien sy oor drie paspoorte en verskeie buitelandse bankrekeninge beskik.

Luidens inligting het Maxwell voorgestel dat sy onder huisarres met GPS-opsporing vrygelaat word. Sy het ook ʼn verband van $5 miljoen (sowat R84 miljoen) as sekuriteit verseker, sou sy vrygelaat word. Volgens aanklaers is dié sekuriteit egter “niks werd nie”.

“Daar sal geen verhoor vir die slagoffers wees as die beskuldigde die geleentheid gegun word om uit die jurisdiksie te vlug nie en daar is rede om te dink dit is presies wat sy sal doen as sy vrygelaat word,” het aanklaers Maandag in hofstukke aangevoer.

Epstein is Augustus verlede jaar dood in sy tronksel in ’n gevangenis in Manhattan aangetref nadat hy vermoedelik sy eie lewe geneem het. Hy is ʼn maand tevore in hegtenis geneem op aanklagte dat hy talle minderjarige meisies etlike jare lank seksueel mishandel het.

Maxwell is deur baie slagoffers van Epstein daarvan beskuldig dat sy gehelp het om hulle na hom toe te lok.

Luidens die hofstukke het Maxwell probeer ontsnap toe sy op 3 Junie in ʼn huis in New Hampshire vasgetrek is op aanklagte wat verband hou met Epstein se sekshandel-aanklagte. Volgens die owerhede het Maxwell versuim om die voordeur van die huis vir polisiebeamptes oop te maak, waarna sy na ʼn ander vertrek in die huis gevlug het.

Die polisiebeamptes het toe die deur oopgebreek en Maxwell in die huis in hegtenis geneem.

Jeffrey Epstein tydens ‘n vorige hofverskyning. (Foto: Uma Sanghvi, Palm Beach Post,/AP)

Luidens die hofstuk is daar in die betrokke huis ʼn selfoon in foelie toegedraai aangetref. Die selfoon is oënskynlik in foelie toegedraai in ʼn poging om opsporing te ontduik.

Maroela Media het vroeër berig Maxwell het jare lank saam met Epstein gewoon en het gereeld saam met hom gereis. Sy ontken egter enige betrokkenheid by sy seksmisdrywe of dat sy van Epstein se beweerde seksuele wangedrag geweet het.

Epstein, ʼn welgestelde verskansingsfondsbestuurder wat eens vriende met oudpres. Bill Clinton, pres. Donald Trump en die Britse prins Andrew was, het glo minderjarige meisies betaal om hom by sy huise in Florida en New York masserings te gee waar hy hulle glo gemolesteer het.

Die aanklagte teen hom hou verband met bewerings wat dateer van die vroeë 2000’s. Epstein se inhegtenisneming het plaasgevind te midde van ʼn hernieude ondersoek na ʼn voorheen geheime pleitooreenkoms wat ʼn strafregtelike ondersoek teen hom beëindig het. Die ooreenkoms, wat nou in ʼn Florida-hof betwis word, het Epstein in staat gestel om in 2007 skuld te beken op ʼn minder ernstige aanklag van prostitusie.

Hy is toe as ʼn seksoortreder geregistreer, maar het ʼn lewenslange vonnis vrygespring. Hy is tot 13 maande agter tralies gevonnis. Die ooreenkoms het ook behels dat hy finansiële skikkings met sy slagoffers aangaan.

Volgens hofrekords het owerhede gesê minstens 40 minderjarige meisies is destyds na Epstein se Palm Beach-herehuis geneem vir seksuele ontmoetings nadat die meisies plaaslik en in ander dele van die wêreld gewerf is. Van die meisies is ook na Epstein se wonings in New York City, Nieu-Mexiko en ʼn private Karibiese eiland geneem.

Bykomende bronne: CNN, The Guardian

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Niklaas ·

Hoë bome val eintlik die hardste. Kyk na Harvey Weinstein se geval. Net snaaks dat mens niks meer hoor van Bill Cosby se vervolging nie.

Wat op dees Aarde ·

Bill Cosby sit klaar in die tronk. Hy skuld nog blykbaar miljoene vir sy regspan. Ek glo nie hy gaan enigsins binnekort uitkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.