Ergste storm in dekades tref Spanje, Frankryk

‘n Man kyk Dinsdag uit op die Middellandse See gedurende ‘n storm in Barcelona, Spanje. (Foto: Emilio Morenatti, AP)

’n Hewige storm, genaamd storm Gloria, het vandeesweek minstens vier lewens in die ooste van Spanje geëis, waarna dit na die suide van Frankryk beweeg het.

BBC berig die streek om Valencia en die Baleariese Eilande in Spanje is Maandag die swaarste getref deur oorstromings en sterk winde.

Stormsterk winde van 115 km per uur en groot golwe aan die kus van die Middellandse See is gister deur plaaslike weervoorspellers aangemeld.

Luidens inligting is ’n man in sy huis in die Spaanse provinsie Avila dood nadat hy deur dakteëls getref is. ʼn Hawelose vrou het naby Valencia verkluim.

ʼn Man is in ’n motorongeluk veroorsaak deur die sneeu in die Asturië-streek dood, terwyl ’n ander buite sy huis in die stad Moixent dood aangetref is met tekens van hipotermie.

Golwe breek Sondag in San Sebastian in die noorde  van Spanje. (Foto: Alvaro Barrientos, AP)

Meer as 30 Spaanse provinsies is tans op ’n gereedheidsgrondslag geplaas.

Euro Weekly News Spain berig Brittanje se buitelandse kantoor het ook ’n dringende waarskuwing aan sy burgers uitgereik om vir eers nié na Spanje te reis nie, tensy dit glad nie vermy kan word nie.

Gloria het intussen na Pyrénées-Orientales in Frankryk beweeg waar tientalle bykomende polisie en brandbestryders ontplooi is. Dié streek aan die Franse Mediterreense kus langs die Spaanse grens, is ook op ʼn gereedheidsgrondslag geplaas.

Die A9-snelweg aan die Franse kant van die grens is ook intussen as voorsorgmaatreël gesluit.

Luidens ’n Franse weervoorspeller is dit die ergste storm sedert 1982 om dié land gedurende die winter te tref.

Spanje en Frankryk is ook in Oktober verlede jaar deur hewige oorstromings getref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.