
‘n Polisieman hou wag terwyl ondersteuners die King Baudouin-stadion verlaat ná ‘n moontlike terreuraanval in Brussels. (Foto: Hatim Kaghat / Belga / AFP)
Twee Sweedse burgers is Maandagaand in Brussel doodgeskiet. Die Belgiese premier het die aanval as “terrorisme” bestempel.
Die aanval kom net dae ná ʼn mesaanval op onderwysers by ʼn skool in Frankryk.
Die aanval in België het kort voor ʼn sokkerwedstryd tussen België en Swede plaasgevind. Die twee slagoffers het sokkerhemde van die Sweedse nasionale span aangehad toe ʼn gewapende man voor die sokkerwedstryd met ʼn outomatiese geweer in die middestad op hulle losgebrand het.
ʼn Derde persoon is tydens die aanval ernstig beseer, maar Belgiese amptenare sê die persoon is nie in ʼn kritieke toestand nie.
Die aanvaller het ná die aanval op ʼn bromponie gevlug en is steeds op vrye voet.
Die Europese Groep F- kwalifiseringswedstryd tussen België en Swede is gisteraand teen rustyd noodgedwonge opgeskort en ongeveer 35 000 ondersteuners moes die Koning Boudewyn-stadion verlaat.
Polisiebeamptes het ekstra beskerming aan Sweedse ondersteuners by die wedstryd gebied en Swede se nasionale spelers is direk na die lughawe vergesel.
Die Belgiese owerhede het intussen sy terreurwaarskuwing verhoog tot vlak vier of “baie ernstig”. Die vlak is die hoogste en geld tans in Brussel. ʼn Vlak drie geld in dié stadium vir die res van België.
ʼn Man, wat homself as die aanvaller geïdentifiseer het, sê (in Arabies) in ʼn video wat op sosiale media geplaas is dat hy geïnspireer is deur die Islamitiese Staat.
Hy beweer in die video dat die Sweedse nasionaliteit van sy slagoffers sy motivering agter die aanval was.
Verskeie Belgiese media het die verdagte intussen geïdentifiseer as die 45-jarige Abdesalem L van Tunisiese oorsprong wat in Brussel woon.
Die federale aanklaer in beheer van terrorismesake het ʼn ondersoek van stapel gestuur. Die polisie ondersoek tans net een verdagte op grond van voorlopige inligting.
Daar blyk in dié stadium geen verband te wees met die aanval in Brussel en die konflik tussen Israel en Hamas in die Midde-Ooste nie.
Swede was vroeër vanjaar nog in ʼn bitter twis met Moslemlande gewikkel ná verskeie voorvalle waar die Koran, Islam se heilige boek, verbrand is.
Dis hoe dit lyk as jy jou grense oopstel vir die arme immigrante en jou eie mense se welsyn versaak.
Mens kan sien waar terreur-groepe al oral in die wêreld vastrapplek gekry het, onder die dekmantel van humanisme.