Ethiopian Airlines steun Boeing ná dodelike ongeluk

Die uitvoerende hoof van Ethiopian Airlines het opnuut sy vertroue in die vliegtuigvervaardiger Boeing bevestig ten spyte van die feit dat een van die redery se vliegtuie vroeër vandeesmaand neergestort het.

ʼn Boeing 737 Max 8 van Ethiopian Airlines het op 10 Maart geval kort nadat dit op Addis Abeba opgestyg het. Die vliegtuig was op pad na Nairobi. Al 157 mense aan boord het omgekom.

Die vlieënier het kort nadat die vliegtuig opgestyg het gerapporteer dat die vliegtuig probleme ervaar en gevra om na Addis Abeba terug te keer. Die lugverkeerbeheertoring het kontak met die vliegtuig verloor ses minute nadat dit by die lughawe opgestyg het. Dit het naby Bishoftu, sowat 50 km van die Ethiopiese hoofstad, geval.

“Laat ek dit duidelik stel: Ethiopian Airlines glo in Boeing. Hulle is al jare lank ons vennoot,” het Tewolde GebreMariam, die uitvoerende hoof, in ʼn verklaring gesê.

“Ten spyte van die tragedie gaan Ethiopian Airlines en Boeing in die afsienbare toekoms bly saamwerk.”

Tewolde GebreMariam, uitvoerende hoof van Ethiopian Airlines, tydens ‘n mediakonferensie oor die vliegtuigongeluk. (Foto: AP Photo/Mulugeta Ayene)

Dié voorval was boonop die tweede ramp vir die 737 Max 8. In Oktober het ʼn vliegtuig van dieselfde model – wat behoort aan Indonesië se Lion Air – ook neergestort. Al 189 passasiers en bemanningslede aan boord het omgekom. Volgens Ethiopië se minister van vervoer wys ʼn ontleding van die vlugopnemers se data duidelike ooreenkomste tussen die twee vliegongelukke.

The Guardian berig GebreMariam se openbare steun word waarskynlik deur Boeing verwelkom. Die vliegtuigvervaardiger se aandele het opdraande gekry sedert die twee ongelukke. Die maatskappy sal vandeesweek meer as 200 vlieëniers, tegnici en reguleerders op die hoogte bring van opleidingsopdaterings en sagteware vir die 737 Max 8. Boeing gaan na verwagting ook verbeterde waarskuwingstelsels as standaardpraktyk in elke vliegtuig inbou. ʼn Kajuitliggie wat foutiewe sensors uitwys is reeds in verskeie vliegtuie geïnstalleer – onder meer in American Airlines se vloot – maar is nié deur Ethiopian Airlines of Lion Air aangekoop nie.

Die Indonesiese redery Garuda het verlede week die eerste geword om sy bestelling vir die model te kanselleer. Hy voer ʼn gebrek aan openbare vertroue in die model aan as rede vir dié besluit.

Die huidige vloot van 387 vliegtuie wêreldwyd bly intussen gehok terwyl die ondersoeke voortduur.

Die stemopnemer in die kajuit van die Lion Air-vliegtuig wat neergestort het, dui daarop dat die vlieëniers in die laaste minute voordat die vliegtuig geval het, besig was om ʼn handboek te raadpleeg om te probeer uitpluis waarom die vliegtuig aanhou duik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

AFRIKA ·

janee .. daai lisensies is seker gekoop as jy die HANDBOEK Moet raadpleeg om probleme in vlug op te los?? WEL WEL Air Ethiopie, dit is nie julle familie wat daarin dood is nie .. kyk maar hoe LEEG is julle toonbanke nou . hoekom ondersteun julle vir Boeing as julle weet daar is fout met hulle vliegtuie??

Christiaan ·

Omdat dit ‘n belangstelling is, het ek al wat ‘n lugvaart ongeluk ondersoek bestudeer wat ek my hande kon op lê. Eerstens kan ek sê dat baie mense reeds dood is a.g.v loodse wat vliegtuie onbewustelik laat stol het. Die laaste geval was van die Franse Airbus wat in die Atlantiese oseaan neer gestort het a.g.v die 1st offisier wat die vliegtuig laat stol het sonder dat hy eers daarvan bewus was. Amper 300 mense het omgekom. Ek glo Boeing het juis dit probeer voorkom sodat die vliegtuig se rekenaar die probleem kan verhoed. Ervare loodse gaan ook ‘n “handboek” na indien die vliegtuig iets doen wat hulle nie verstaan nie! Hulle het ook ‘n direkte lyn na die lugredery se maintenance afdeling om vrae te vra. Die Boeing 737 Max het alreeds meer as 13,000 ure in die VSA gevlieg sonder enige probleme en plaaslike loodse word intensief opgelei om enige nuwe vlietuig te vlieg. Daar word ook aangedui hoeveel ure ‘n loods met ‘n sekere model vliegtuig gevlieg het. Hier is my vraag. Hoekom het die twee ongelukke met net 3de landse lugrederye gebeur? Was hulle loodse werklik opgelei om met die nuwe 737 te vlieg en die nuwe rekenaar stelsel te verstaan en te beheer?

n ·

Ek dink dit dat hulle intense opleiding wil gee se vir my dat dit die probleem was…..opleiding

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.