Etiek: Genetiese manipulasie vir ‘ontwerperskind’

Foto: Pixabay/Darkostojanovic

Foto: Pixabay/Darkostojanovic

Die potensiaal om “ontwerperskinders” die lewe in te bring deur genetiese veranderings in die fetus aan te bring, het ’n stap nader aan die werklikheid gekom, nadat die Amerikaanse Association for the Advancement of Science pas versigtige goedkeuring vir navorsing op mense hiervoor in ’n verslag gegee het.

Die verslag volg op ’n konferensie wat in 2015 gehou is, en wat deur wetenskaplikes, etiekkenners, regsgeleerdes en groepe pasiënte van oral oor die wêreld bygewoon is.

Die wetenskaplikes se fokus is egter nie by “ontwerperskinders” wat lank en intelligent is, en blou oë het nie, maar by die potensiaal om gene in die fetus te vervang of te verander wat tot ernstige oorerflike siektes kan ly. Van die siektes wat so voorkom kan word, is borskanker, sekelselanemie, Huntington se siekte en sistiese fibrose.

’n Tegniek, bekend as CRISPR-Cas9, het die tegnologie tot op die randjie van die werklikheid gebring, is berig.

Wetenskaplikes het met die tegniek reeds daarin geslaag om beeste sonder horings te teël, en gewasse wat teen siektes bestand is.

Sommige wetenskaplikes meen die risiko’s is so groot dat die tegnologie heeltemal verbied moet word. Ander bepleit ʼn wêreldwye stel reëls wat uitsonderings moontlik maak.

Die verslag beveel aan dat die tegniek net gebruik word in gevalle van baie ernstige oorerflike siektes, en ook net as daar geen ander opsie is nie. Die wetenskaplikes moet ook weet dat die verandering wat aangebring word, die gewenste resultaat tot gevolg sal hê. ’n Verbod in die VSA sal waarskynlik daartoe lei dat mense hulle na ander lande sal wend waar die beheermaatreëls nie so streng is nie, en die risiko’s groter. Die opstellers van die verslag het kennis geneem dat mediese toerisme ’n werklikheid is en dat mense hulp kan kry waar min reëls geld.

Meer navorsing moet egter gedoen word voor daar aanpassings aan menslike genome gemaak word. Vordering word egter deurgaans gemaak. Onlangse navorsing het wetenskaplikes in staat gestel om te verstaan hoekom genetiese aanpassing soms tot ongewenste mutasies lei, en ook hoe om dit te voorkom.

ʼn Uitdaging vir die behoorlike wêreldwye beheer hieroor is dat die wetenskap globaal is, maar wette per land geld.

Van die wetenskaplikes voel ook dat dit nou die regte tyd is om die morele en etiese debat te voer, want as die tegniek eers vir toepassing gereed is, sal dit moeilik wees om hoopvolle mense te keer om daarvan gebruik te maak.

Foto: Christian Science Monitor

Foto: Christian Science Monitor

Dr. Stephan Hoffman, teoloog van die Nederduitsch Hervormde Kerk wat nou aan die Bybelgenootskap gesekondeer het, en wat sy doktoraal voltooi het onder die titel: “ʼn Eko-teologiese perspektief op die christelik-etiese implikasies van stamselnavorsing en -terapie” het soos volg op die verwikkelinge gereageer:

1) God is God en die mens is mens. Ons moet dit onthou as ons besig raak met die skepping wat gebroke is deur en ly onder die sonde. Daarom moet ons versigtig omgaan met dit wat God geskep het, sodat ons inmenging nie tot verdere destruksie lei nie, maar wel tot die heling of genesing wat ons beoog. ʼn Onrealistiese optimisme oor genetiese manipulasie en die vermoë van die mens sal tot teleurstelling lei. Op die ou end bly ons volkome van God afhanklik vir genesing en hierdie nederige erkentlikheid moet deel bly van ons benadering.

2) Aan die ander kant is daar geen rede vir gelowiges om op sigself gekant te wees teen tegnologiese ontwikkeling en die soeke na mediese hulpmiddele ter genesing, verligting van pyn en hulp nie. ʼn Ongegronde pessimisme moet dus ook afgewys word.

3) Die vraag na die begin, aard en omvang van menslike lewe is baie meer kompleks as wat tradisioneel gedefinieer is, ons moet die dinamies-relasionele aard van menswees verdiskonteer in ons etiese besluitneming.

4) Die waarde van menslike lewe moet gerespekteer word en verkieslik nie op die spel kom deur byvoorbeeld gebruik te maak van pluripotente menslike embrionale selle, indien daar goeie alternatiewe bestaan nie. Hierdie respek bring natuurlik ook die vraag na kunsmatige in vitro-bevrugting en die vernietiging van bevrugte eierselle na die debat toe, iets wat dalk vanuit sentiment selde gebeur.

5) Die motiewe wat agter ons dade skuil, moet ook deel uitmaak van ons oorweging, dit is baiekeer nie wat ons doen nie, maar hoekom ons iets doen wat belangrik is.

6) Die gelowige wat hom- of haarself bemoei met die wetenskap van genetiese manipulasie, behoort elke dag die etiese implikasies daarvan te oorweeg aan die hand van die Bybel en onder leiding van die Heilige Gees die mees verantwoordelike besluit binne die spesifieke omstandighede neem. In hierdie opsig sal verabsoluteerde maxims of relatiewe uitkomste ons nie baie help nie. ʼn Vraag na die relasionele aard van menslike eksistensie, as wese in verhouding met God, self, ander en omgewing kan ons dalk eerder lei tot verantwoordbare optrede.

7) Op die ou end bly dit ʼn moeilike saak wat gebalanseerde refleksie vereis.

Bron: Christian Science Monitor, Nature, NPR, VOX

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Johann ·

Geen wonder die wêreld is so boos nie want al die versinsels wat GOD vir die mense goed bedoel het, word deur Sy kroon skepsele verander

Klippies ·

Kom ons stel dit eenvoudig… hier kom probleme.. die mens het net nie die verstandelike vermoeë om aan al die permutasies van moontlike nagevolge te dink of te toets nie. Kyk na die natuur en wat ons reeds verwoes agv van ons “wetenskaplike vermoë”. Daar is derduisende voorbeelde waar wetenskaplikse nie gedink of bekommerd was oor die moontlike nagevolge nie. Kanker is n goeie voorbeeld van n siekte wat eers na die industriele revolusie “ontstaan” het en die gevolg is van wetenskaplike uitvindsels en dus n impak het op die menslike liggaam. Die aarde en alles daarop is geskape om op n sekere manier te funksioneer, breek of verander die ketting en daar is nagevolge, al neem dit n 200 jaar.

Zach Coetzee ·

Die toenemende kompleksiteit van die menslike genoom, RNA, protein-voue, kwaliteite van die sel wat dieselfde genoom laat ontwikkel in verskeie organe en bouplanne van organismes, eksterne bepalende faktore wat genes aan of afskakel ens., wat oor tyd deur die wetenskap blootgele word, wys dat die skeppingswerklikheid soveel komplekser is as wat mens (as leek en selfs wetenskaplike) sou wou glo. Dus is daar nog baie insigte in die genetiese werking waarvan mens min begryp of van bewus is. Die Skepping was ‘n veel groter misterie as wat sommige sou wou erken.

Lola ·

Ek wonder nou, is dit ‘n goeie ding dat die wetenskaplikes so slim raak of nie. Is dit dan nie moontlik om die genitika van byvoorbeeld ‘n down-sindroom baba te kan verander nie?

Sozette Ras ·

Ek is vir dit. My een babatjie is met trisometry18 gebore. En het twee jaartjies gelewe en baie gely. As daar enige iets is wat kan voorkom dat ouers en kindertjies lyding kan spaar. Is dit vir die beste, geen dowe kinders, geen blindes, geen siekes en geen krankes. Die vader het vir ons die kennis gegee laat ons dit gebruik.

Basjan ·

Ek sal nie verbaas wees as daar reeds ‘n hele aantal van hierdie kinders al gebore is nie.

antjie ·

Die mens wat wil God speel en in wese die skepping wil manipuleer….o nee dit ganie werk nie….

SARIE VAN HEERDEN ·

Stem heelhartig saam met Sozette Ras. Is dit vergesog om ‘n ras t e skep deur bv die geen verantwoordelik vir moord en kriminele geaardhede te elemeneer deur die toepassing van genetika? Mense moet ook nie godsdiens hierby insluit nie want daar is ander godsdienste as net die Christelike geloof wat ook op hierdie aarde bewoon of almal nou daarmee saamstem of nie. Genetika word al vir baie jare ingespan en toegepas veral op landbougebied sonder dat daar enige skade gedoen is aan die mens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.