EU bevries rekenings van Oekraïne se afgesette president

Foto: Wêreldleiers in diep gesprek tydens 'n pouse by die Parys-beraad

Foto: Wêreldleiers in diep gesprek tydens ‘n pouse by die Parys-beraad

Die Europese Unie het bevestig dat die afgesette president van die Oekraïne, Viktor Janoekovitsj, een van die 18 Oekraïners is wie se rekeninge binne die Unie gevries is.

Die lys toon duidelik aan hoe onmoontlik dit sou wees om die korrupsie deur die afgesette regering self te laat hokslaan – benewens Janoekovitsj verskyn ook die name van die prokureur-generaal, die minister van binnelandse sake, die minister van justisie, die eerste minister en twee seuns van Janoekowitsj.

Met die jongste mededeling is nie bedrae gemeld nie, maar in ‘n vorige verklaring is gemeld dat vermoed word dat die korrupte kliek sowat 500 miljard euro’s uit die staatskas gestroop het, en sodoende die land in ‘n ekonomiese en finansiële krisis gedompel het.

Die doel van die bevriesing is om die geld uiteindelik aan die Oekraïne se staatskas terug te besorg. Individuele Europese lande stel ook nog ondersoek in na nog fondse wat in die geheim in hul lande belê is.

Intussen het die Europese Unie, in oorleg met die IMF, hulp vir die herstel van die land se ekonomie ter waarde van sowat $11 miljard aangebied. Dit is egter net voldoende om die mees kritieke korttermyn-probleme die hoof te bied.

Na gister aanvanklik berig is dat Rusland self stokkies gedraai het by die krissisamesprekings tussen verskeie groot moondhede wat in Parys gehou is, is later berig dat die Russiese minister van buitelandse sake tog sy opwagting gemaak het. Na afloop van die samesprekings het die Amerikaanse minister van buitelandse sake, John Kerry, gesê dat daar ‘n verbintenis van alle partye was dat die krisis deur dialoog opgelos word.

Analiste meen dat sou die situasie nie opgelos word nie, en Europese strafmaatreëls teen Rusland ingestel sal word, dit beperk sal wees tot die herinstelling van visums, en “slim sanksies” wat teen die Russiese leierskorps gemik sal wees. Die moontlikheid van algemene sanksies word as onwaarskynlik beskryf, omdat sulke sanksies sommige Europese lande swaarder as vir Rusland kan tref.

Slegs die mees optimistiese analiste meen die krisis, wat weer in die woordeskat van die Koue Oorlog uitgedruk word, besig is om oor te waai. Kerry wys onder meer daarop dat die Russe daagliks hul greep op die Krim verstewig en so eintlik die krisis verdiep. Die woord wat gebruik word om die situasie uiteindelik te probeer ontlont, is “de-eskaleer.”

Terwyl sommige markte deur brokkies goeie nuus na normaal begin terugkeer, word ander steeds beïnvloed. Die skerp styging in die internasionale mielieprys word aan die onstabiliteit in die Oekraïne toegeskryf. Die Oekraïne word as een van die wêreld se belangrikste broodmandjies beskou. Dit is onder meer slegte nuus vir Zimbabwe wat pas formeel bankrot geraak het en nog mielies weens Mugabe se “grondhervormingsprogram” moet invoer.

In ‘n interessante wending het die Amerikaanse verteenwoordiger van Russia Today, tydens ‘n regstreekse uitsending haar bedanking uit protes teen die Russiese besetting van die Krim aangekondig. Lisa Wahl het gesê sy glo daaraan om by die waarheid te hou, en kan nie daarmee saamleef om te werk vir ‘n instansie wat deur die Russiese regering gefinansier word, en alles wat pres. Poetin doen goedpraat nie (‘n Video van haar bedanking volg onderaan die berig). Woensdag het nog ʼn joernalis, Abby Martin, haar na afloop van ‘n nuusuitsending baie skerp teen die Russiese besetting uitgelaat.

Bronne: Trouw, Christian Science Monitor, De Standaard

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.