EU dagvaar AstraZeneca oor entstof-tekorte

(Foto: Justin Tallis/AFP Photo)

Die Europese Unie het Maandag gesê hy het met regstappe begin teen die farmaseutiese reus AstraZeneca oor ʼn tekort aan Covid-19-entstof wat inentingsveldtogte verhinder.

“Die kommissie het Vrydag met regstappe begin teen die maatskappy weens kontrakbreuk,” het Stefan de Keersmaecker, woordvoerder vir die EU, gesê. “Sommige bepalings van die ooreenkoms is nie nagekom nie en die maatskappy het nog nie met ʼn betroubare strategie vorendag gekom om seker te maak dosisse word betyds afgelewer nie.”

De Keersmaecker sê die EU neem die regstappe “namens die 27 lidstate wat ten volle saamstem met die prosedure”. “Wat vir ons in dié saak belangrik is, is dat ons wil seker maak dat ʼn voldoende getal dosisse, waarop Europese burgers geregtig is en wat volgens die kontrak belowe is, spoedig afgelewer word.”

Die Brits-Sweedse firma AstraZeneca het die regstappe as “sonder meriete” afgemaak en hou vol dat hy “die geleentheid verwelkom om die dispuut so vinnig as moontlik op te los”. “AstraZeneca het ten volle voldoen aan die gevorderde koopkontrak met die Europese Kommissie en ons sal onsself sterk in die hof verdedig.”

Die kommissie en die maatskappy is in ʼn stryd oor ʼn groot tekort aan aflewering van die entstof wat inentingsveldtogte in die blok verhinder.

AstraZeneca het gesê hy moes teen die einde van April sowat 50 miljoen dosisse aan Europa verskaf, maar dit is baie minder as die getal wat Brussel volhou moes gelewer word. Die kommissie het gesê die maatskappy het slegs 31 miljoen van die 120 miljoen verwagte dosisse in die eerste drie maande van hierdie jaar gelewer.

Die maatskappy het gewaarsku dat hy slegs 70 miljoen van nog 180 miljoen dosisse sal stuur, wat aanvanklik teen Junie belowe is.

Pascal Soriot, Frans-Australiese hoof van AstraZeneca, voer aan ʼn klousule verbind sy maatskappy se kontrak met die EU slegs tot “beste redelike pogings”.

Die kommissie voer aan die res van die kontrak wys groter regsaanspreeklikheid en EU-diplomate en wetmakers het daarop gewys dat die maatskappy grootliks dosisse aan Brittanje verskaf het, waar sy hoofkantoor geleë is.

Die EU wou aanvanklik die AstraZeneca-entstof gebruik as dryfkrag vir die blok se inentingsveldtog, maar hy het nou na die duurder BioNTech/Pfizer-entstof oorgeskakel. Pfizer sal na verwagting tydens die tweede kwartaal van hierdie jaar sowat 250 miljoen dosisse oor EU heen aflewer. Die 27 lande poog om teen Julie ʼn teiken te behaal van 70% volwassenes wat ingeënt is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.