EU vra minder nie-noodsaaklike reise, maan teen strenger regulasies

‘n Polisiebeampte gaan ‘n vragmotorbestuurder se Covid-19-dokumente by die Dover-hawestad na. (Foto: Glyn Kirk/AFP)

EU-leiers het mense Donderdag “ten sterkste afgeraai” om onnodig te reis en gewaarsku dat strenger maatreëls oor reis binne dae ingestel kan word as bestaande pogings om die verspreiding van Covid-19 te stuit nie doeltreffend is nie.

EU-hoofde Ursula von der Leyen en Charles Michel het dié waarskuwing gegee ná ʼn ure lange beraad met regeringshoofde van die 27 lidlande oor hoe om op die pandemie te reageer.

Die gevoel van dringendheid is aangevuur deur vrese oor die verspreiding van die hoogs aansteeklike koronavirusvariante wat reeds hoë infeksiekoerse deur die dak kan laat skiet en groot druk op hospitale plaas, soos reeds in Engeland gesien kan word.

“Alle nie-noodsaaklike reise in die land – en natuurlik oor grense – word ten sterkste afgeraai,” het Von der Leyen, hoof van die Europese kommissie, gesê.

“Dit gaan waarskynlik nodig wees om bykomende beperkingsmaatreëls in te stel om die aantal nie-noodsaaklike reise te beperk en dit is die rigting wat ons inslaan,” het Michel, president van die Europese raad, gesê.

Albei het egter gesê die EU wil ʼn herhaling van gebeure tydens die kruin van die eerste vlaag in Maart verlede jaar voorkom, toe verskeie lidlande in ʼn vlaag van paniek hul grense eensydig gesluit en reis- en ekonomiese chaos veroorsaak het.

“Dit is uiters belangrik om die enkelmark aan die gang te hou,” het Von der Leyen gesê.

Werkers en vrag moet steeds toegelaat word om grense oor te steek.

Sy het na die EU as “een epidemiologiese sone” verwys en sê die virus gaan net in bedwang gebring word as spesifieke maatreëls ingestel word. ʼn Summiere sluit van grense gaan die ekonomie skade berokken, maar nie die virus juis beperk nie.

Om te verhoed dat grense in die paspoortvrye Schengen-gebied gesluit word, moet meer toetse gedoen word.

Van Sondag moet mense wat van buite na die EU reis moontlik ʼn toets vir Covid-19 laat doen, en die kans is groot dat net diegene met dwingende redes toegelaat gaan word.

Binne die EU gaan sommige lande toetse vir oorgrensreise vereis wat nie in kategorieë soos dié vir werkers en vragmotorbestuurders val nie.

Van Sondag vereis Frankryk ʼn bewys dat reisigers uit Europa – benewens dié wat vir noodsaaklike redes reis – negatief vir Covid-19 getoets het. Ander Europese lande gaan moontlik dieselfde doen.

Entstofsertifikaat

Ná ʼn teleurstellend stadige begin aan inentings in die EU, het die Europese kommissie gevra vir groter dringendheid onder lidlande.

Hy hoop om binnekort meer entstof, benewens dié van BioNTech/Pfizer en Moderna wat tans gebruik word, goed te keur en om 70% van volwassenes in die EU voor September in te ent.

Die leiers het ook die moontlikheid van sogenaamde entstofsertifikate bespreek. Lande soos Griekeland, wat swaar op toerisme steun, hoop dit sal bydra tot die verligting van reisbeperkings en help om wat lyk na nóg ʼn rampspoedige vakansietyd, te red.

Die EU-leiers het egter besluit dit is te vroeg en te veel vrae bestaan nog oor só ʼn sertifikaat om dit in hierdie stadium as enigiets meer as ʼn gesondheidsrekord te gebruik.

Nuwe variant versprei

Donderdag se beraad het op dieselfde tyd plaasgevind as wat die Europese Sentrum vir Siektevoorkoming en -beheer gesê het daar is ʼn baie groot moontlikheid dat die meer aansteeklike variante in die EU kan versprei.

Die mutasies, wat al in Engeland, Suid-Afrika en Brasilië kop uitgesteek het, het reeds tot ʼn verbod op reise of beperkings op reisigers vanuit hierdie lande gelei.

Hoewel daar geen aanduiding is dat die nuwe variante meer dodelik is nie, is daar kommer dat die vinniger verspreiding daarvan hospitale se intensiewesorgeenhede kan oorweldig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Samuel ·

Nie noodsaaklike reise? Hier ter lande sal soiets nie werk nie, want die grootste deel van die bevolking dink reëls en regulasies is daar om gebreek te word. Sterkte aan EU in hulle stryd teen pandemie.

Megan Swart ·

Dagsê Hennie
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.