EU, VSA ‘baie bekommerd’ oor Afghaanse vroue, meisies

Mense keer onverrigter sake van die grens met Pakistan terug nadat hulle vergeefs uit Afghanistan probeer vlug het. (Foto: AFP)

Die Europese Unie, die VSA en 19 ander lande het Woensdag ʼn gesamentlike verklaring uitgereik om te sê hulle is “baie bekommerd oor Afghaanse vroue en meisies” en hulle maan die Taliban om hulle veiligheid te verseker.

Dit is in reaksie op die Taliban se 1996 – 2001-bewind wat gekenmerk is deur ʼn baie streng interpretasie van Islam wat Afghaanse vroue verhoed het om te werk of te studeer en verhoed het om sonder ʼn manlike “voog” te reis. Die Taliban het onlangs weer beheer oorgeneem in Afghanistan.

“Ons is baie besorg oor Afghaanse vroue en meisies, hul reg tot onderrig, werk en vryheid van beweging,” lui die verklaring. “Ons doen ʼn beroep op diegene in magsposisies in Afghanistan om hul beskerming te verseker. Afghaanse vroue en meisies, net soos alle Afghane, verdien om in veiligheid, sekuriteit en met waardigheid te leef. As ʼn internasionale gemeenskap staan ons gereed om hulle by te staan met humanitêre hulp en ondersteuning om seker te maak hulle word gehoor.”

Die EU se oorspronklike verklaring het gewys lande wat die verklaring onderteken het, sluit in die VSA, Albanië, Argentinië, Australië, Brasilië, Brittanje, Chili, Colombia, Costa Rica, Ecuador, El Salvador, Honduras, Guatemala, Kanada, Nieu-Seeland, Noord-Masedonië, Noorweë, Paraguay, Senegal en Switserland.

Die lande het gesê hulle sal die situasie monitor om te kyk hoe “enige toekomstige regering die regte en vryhede verseker wat ʼn integrale deel geword het van die lewe van vroue en kinders in Afghanistan die afgelope 20 jaar”.

Die verklaring kom terwyl Westelike lande ontruimingsvlugte uit Kaboel reël vir hul burgers en Afghane wat hulle die afgelope twee dekades gehelp het.

ʼn ‘Nuwe’ Taliban

Die Taliban het gesê hulle sal beslis hierdie keer anders optree en het onderneem om vroue se regte te respekteer “kragtens die beginsels van Islam”.

Die Taliban het ook onderneem om versoenend op te tree en dat hulle nie weerwraak sal neem teen teenstanders nie. “Almal aan die ander kant word van A tot Z vrygespreek,” het Zabihullah Mujahid, woordvoerder van die Taliban, in hul eerste perskonferensie uit Kaboel gesê.

Mujahid het ook gesê die Taliban verbind homself “om vroue toe te laat om te werk kragtens die beginsels van Islam”. Hy het egter nie verder uitgewei oor besonderhede nie.

Suhail Shaheen, ʼn woordvoerder vir die groep in Doha, het aan Engeland se Sky News gesê vroue sal nie vereis word om die allesbedekkende boerka te dra nie, maar het ook nie gesê watter klere aanvaarbaar sal wees nie.

Inwoners in Bamiyan het egter intussen berig ʼn standbeeld van ʼn Hazara-leier, Abdul Ali Mazari wat in die 1990’s deur die groep doodgemaak is, is onthoof. Hazaras word vervolg vir hul grootliks Sjiïtiese geloof en duisende is doodgemaak tydens die Taliban se oorname van die land in die 1990’s.

“Ons is nie seker wie die standbeeld opgeblaas het nie, maar daar is verskillende groepe van Taliban hier teenwoordig, insluitend sommige wat bekend is vir hul gewelddadigheid,” het ʼn inwoner aan AFP gesê, op voorwaarde van anonimiteit.

Vlug landuit

Tienduisende Afghane en ander uitlanders probeer steeds om uit die land te vlug. Die VSA en ander lande het meer ontruimingsvlugte uit Kaboel gereël. Desperate tonele van die lughawe word sedert die begin van die week gedeel. Beeldmateriaal het gewys hoe honderde mense langs ʼn vliegtuig van die Amerikaanse Lugmag op die aanloopbaan hardloop. Sommige het aan die vliegtuig probeer vasklou. Een persoon is later dood aangetref in die wielholte van die vliegtuig.

Skares het Woensdag ook buite ambassades bymekaargekom ná gerugte dat regerings asiel aanbied.

Die eerste Nederlandse ontruimingsvlug sedert die Taliban oorgeneem het, het egter Kaboel verlaat sonder ʼn enkele Nederlander of Afghaanse burger aan boord. Passasiers is deur Amerikaanse soldate versper, het die land Woensdag gesê.

Die Amerikaanse weermag het die Nederlandse vliegtuig Dinsdag slegs 30 minute lank op die aanloopbaan toegelaat voor dit gedwing is om weer op te styg, het Sigrid Kaag, Nederland se minister van buitelandse sake, gesê.

Sowat 40 mense kon opklim, maar nie een van hulle was van Nederland of Afghanistan nie. Talle mense was buite die hekke van die lughawe vasgekeer. Die hekke is streng deur die Amerikaanse weermag bewaak.

“Daar was baie mense daar met hulle kinders en hulle families. Hulle was by die ingang van die lughawe. Dit is verskriklik,” het Kaag aan die Nederlandse nuusagentskap ANP gesê.

Sy sal na verwagting die situasie met die VSA bespreek om seker te maak dit word nie herhaal nie. Kaag sal die kwessie ook met die Duitse minister van buitelandse sake, Heiko Maas, bespreek.

Een Nederlander van Afghaanse oorsprong het aan die NOS-staatsuitsaaier het gesê hy kon nie betyds toegang kry tot die lughawe nie, omdat die hekke deur Amerikaanse soldate bewaak word. “Ek het my paspoort gewys en gesê ek is ʼn Nederlander. Daar was baie geraas. Ek kon nie mooi hoor wat die Amerikaner vir my sê nie,” het die man verduidelik. “Nadat ek drie keer gesê het ek is ʼn Nederlander, het hy gesê ek moet my afstand hou, anders sal hy my skiet. Dis toe dat ek besluit het om eerder weg te gaan. Ek wil nie geskiet word nie.”

ʼn Mediese student, slegs bekend as Musa, het aan NOS gesê die Nederlandse ministerie van buitelandse sake het hom per e-pos in kennis gestel om na die noordelike ingang van die lughawe te gaan. Amerikaanse soldate het egter gedreig om mense te skiet wat by die hek opdaag.

Nederland kon egter Woensdag hul eerste burgers ontruim. ʼn Vliegtuig met 35 Nederlanders asook Belge, Duitsers en Britte aan boord, het Kaboel verlaat op pad na Tblisi, het die Nederlandse ministerie van verdediging op Twitter gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pieter ·

Amerika het veel geld uit Afghanistan gemaak vanaf 2001 met heroïne en mynbou, veral lithium. Taliban het heroïne verbouing tot stilstand gebring voor 2001. Die nuwe VSA ooreenkoms met die Taliban verseker dat heroine produksie voortgaan, die Taliban het VSA wapens in ruil daarvoor ontvang. Die stryd teen dwelms is smoke en mirrors soos die renosterhorings in Suid Afrika.

Jana ·

Ag hulle “vermanings” en “bekommernis” gaan absoluut niks doen om die mense te help nie! Dink hulle nou regtig die Taliban gaan vir hulle skrik? Hulle loop al lankal reeds van deur tot deur en gryp meisies tot so jonk as 14 om vir hulle te vat as seks slawe en as die ouers dit waag om te weerstaan word hulle summier geskiet! Hierdie mense is terroriste, hulle kan nie mee geredeneer word nie.

Willem ·

Te oordeel aan die strekking van die berig wil dit voorkom asof die VSA slegs na hul eie mense se veiligheid omsien en vere voel vir ander nasionaliteite. Voorts, wat het die amerikaanse regering verwag gaan gebeur as hulle uit Afghanistan onttrek? Het hulle regtig verwag die Taliban sal doodstil bly sit noudat die pad ooplê? As dít die kwaliteit van die huidige amerikaanse regering se denke is sien ek swarigheid vir hul vennote.

Niklaas ·

Ek dink nie die Taliban menere het vreeslik baie slapelose nagte oor die veiligheid van die vrouens daar nie.

Blikkies ·

Biden moet hulle almal vat, elke vlugteling, hy breek dan mure af om onwettige immigrante te huisves.

annie ·

Dit word duidelik dat die VSA vroeg vanjaar al gewaarsku is dat die Taliban in aantog is. En toe maak hulle planne om te vlug? Nou is hulle en die EU (snik-snik) bekommerd oor die vroue en kinders. Is ‘bekommerd’ ‘n werkwoord?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.